WDM beste in SA – ‘skep regte omgewing’
Persverklaring
Volgens Ratings Afrika se jongste Munisipale Finansiële Volhoubaarheidsindeks (MFSI) is die Weskus Distriksmunisipaliteit (WDM) amptelik aangewys as Suid-Afrika se bes bestuurde munisipaliteit vir 2025.
Só lui ‘n persverklaring uitgereik deur Heinrich Robertson, die WDM se Hoof: Openbare Betrekkinge en Toerisme.
“Die MFSI, wat sedert 2011 jaarliks gepubliseer word, beoordeel munisipaliteite op grond van geouditeerde finansiële state. Die indeks meet finansiële volhoubaarheid aan die hand van operasionele prestasie, likiditeit en skuldbeheer, begrotingspraktyke, bekostigbaarheid en infrastruktuurontwikkeling.

“Met veertien opeenvolgende skoon oudits agter die rug, ontstaan die vraag: wat maak die Weskus Distriksmunisipaliteit anders?
“Struktureel gesien funksioneer die munisipaliteit nie anders as enige ander distrikmunisipaliteit nie – die verskil lê in die samewerking tussen politieke visie en administratiewe wil, gegrond op deursigtige en goeddeurdagte besluitneming.
“By die WKDM besef raadslede dat uitdagings en negatiewe persepsies in die openbare sektor eintlik ’n geleentheid bied om vertroue te herstel en hoop te skep – deur die lewering van doeltreffende, bekostigbare en hoëgehalte munisipale dienste.
“Uitvoerende burgemeester, raadsheer Boffie Strydom, skryf baie van die munisipaliteit se sukses toe aan politieke stabiliteit en goeie bestuursetiek.
“Wanneer daar politieke stabiliteit is, skep dit kontinuïteit, bou dit vertroue, en stel dit ons in staat om medium- tot langtermynvisies te verwesenlik,” sê Strydom. “Wat dit aanvul, is administratiewe konsekwentheid – wat verseker dat projekte en verbintenisse wat in strategiese dokumente soos die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) uiteengesit word, sonder onnodige vertraging en binne die wetlike raamwerk uitgevoer word.
“As burgemeester verstaan ek die belangrike rol wat ek, saam met die Raad, speel om ’n werksomgewing te skep waarin ons uitvoerende bestuur kan innoveer, administratiewe prosesse kan versterk en met integriteit kan lei. ’n Skoon oudit is ’n bevestiging van die munisipaliteit se verbintenis tot gesonde finansiële bestuur, deursigtigheid en goeie regering. Dit weerspieël die toewyding van ons administrasie om die hoogste standaarde van aanspreeklikheid te handhaaf en te verseker dat openbare hulpbronne verantwoordelik bestuur word – altyd in die beste belang van ons gemeenskappe.”

Munisipale bestuurder, David Joubert, beklemtoon dat volhoubare uitnemendheid slegs moontlik is as die organisasiekultuur daarop ingestel is.
“Om nakoming en uitnemendheid te bereik, moet jy eers ’n omgewing skep waar personeel verstaan hoe hulle bydra tot die groter sukses van die organisasie. Ons fokus op skoon en verantwoordbare bestuur, tydige projekafhandeling en finansiële dissipline.
“Ons skep ’n kultuur van vertroue, innovasie binne die wetlike raamwerk, voortdurende leer en die deel van beste praktyke tussen munisipaliteite,” sê David Joubert.

*Luidens Ratings Afrika se webwerf, is die Munisipale Finansiële Volhoubaarheidsindeks (MFSI) ‘n analise en assessering van ‘n munisipaliteit se finansiële volhoubaarheid. “Die uiteindelike doel van die MFSI® is om finansiële volhoubaarheid te verbeter, ‘n deurslaggewende faktor om die vermoë te verseker om dienste te lewer soos vereis binne die munisipaliteit se jurisdiksie.
“Die MFSI® is ‘n geregistreerde handelsmerk van Ratings Afrika.
“Ratings Afrika is die enigste verskaffer van hierdie soort finansiële analise op munisipaliteite.
Dit is ‘n “onafhanklike puntemodel wat sedert 2011 gebruik word, gebou op gepubliseerde finansiële state en geloofwaardige openbare data.
“Dit bied ‘n vergelykbare model tussen eweknieë en kyk na ‘n vyfjaar-tendens.
“Ratings Afrika se intekeninggebaseerde MFSI®-dienste verskaf noodsaaklike inligting vir munisipaliteite, individue, maatskappye en regerings om met vertroue besluite te neem.”
