‘Bek-en-klou kan katastrofies weer vir melkkudde’
Die gevolge van bek- en klouseer (BEK) op veral ‘n melkkudde kan katastrofies wees.
Só het Chris Fourie van Dairy Management Consultants verduidelik op ‘n spesiale biosekuriteitsinligtingsdag van MSD en Saamstaan Boerdery op Malmesbury.
Dr. Anthony Davis van Humansdorp het dit beaam en vertel van die verwoestende effek wat hy op melkplase in die Oos-Kaap gesien het toe die siekte verlede jaar daar uitgebreek het.

Fourie het gesê hy wil nie diferensieer tussen vleis en melk nie, “maar ons moet aanvaar dit is twee heeltemal ander stories as dit kom by BEK.
‘n Melkkoei “kom nie in twee weke oor BEK nie. Wat ‘n melkkoei kan doen in twee weke met BEK, is vrek, maklik.”
‘n Melkkoei “het ‘n verskriklike hoë energiebehoefte. Sy moet nie net haarself onderhou nie, sy moet melk produseer.”
Met BEK kan sy nie meer loop nie en nie meer eet nie en sy het ‘n “enorme inflamasie in haar lyf. Dan vrek sy.”
Hy het gesê plase verskil. By gesonder kuddes is daar kleiner verliese. By kuddes wat ‘n energietekort het, is die verliese groter. Ook by koeie wat in ‘n baie kritiese fase van laktasie is (net ná kalwing). Hulle is dan die vatbaarste vir enige siekte.
Die finansiële impak op ‘n melkkudde, het hy verduidelik, is enorm.
Hy het gesê ‘n tipiese Wes-Kaapse melkboer melk ‘n 1 000 koeie.
Hulle gee elk gemiddeld 40l melk per dag,
Die melkverlies alleen (40% vir 60 dae) kan R7.2 miljoen beloop.
Verder kan 10% van die kudde verloor word (100 koeie): R3 miljoen
Dit beteken ‘n direkte korttermynverlies van R10.2 miljoen en ‘n langtermynverlies (insluitend vrugbaarheid en leeftydopbrengs) van R12 tot R15 miljoen en meer.
“BEK is dus nie ‘n siektegebeurtenis nie. Dit is ‘n meerjarige finansiële en genetiese ramp.”

Dr. Davis het gesê “die beheer van BEK gaan oor verhoudings – die verhoudings wat jy het met die staat, met jou medeboere en jou gemeenskap. Dit is waaroor dit gaan. Julle moet saamwerk.”
Hy het vertel hy en sy vennoot is die eerste veeartse wat verlede jaar BEK ontdek het in die Oos-Kaap.
“Ek is al 25 jaar ‘n veearts en dit is die skokkendste ding wat ek ooit in my lewe gesien het.”
“Hulle noem dit bek- en klouseer, maar dit is eintlik bek-, klou- en uierseer.”
Hy het verduidelik dat die punte van spene deur die virus “weggevreet word”. Dit maak dit baie maklik vir sekondêre bakterieë om toegang te kry en die uier te affekteer.
Davis het ook gesê hy is bekommerd oor veilings. Hy reken aanlynveilings om beeste te verkoop, moet ondersoek word.

Louis Wessels van Agri Wes-Kaap (AWK) het verduidelik hoe vinnig en effektief die ratte begin rol en al die verskeie rolspelers saamgespan het, die oomblik toe die BEK-uitbraak by Gouda bevestig is. Dit het gevolg nadat daar reeds verlede jaar begin is om ‘n werkgroep saam te stel vir wanneer dit nodig sou word.
Wessels het veeboere aangemoedig om AWK en Rooivleisprodusente-organisasie (RPOWK) se naspeurbaarheidsplatform te benut om die naspeurbaarheid van hul diere te verseker. Die sisteem is gratis en integreerbaar met kuddebestuurstelsels.
Laai dit hier af – https://awkaims.co.za/
Op dié manier, het hy verduidelik, word deursigtigheid en verantwoordbaarheid ten opsigte van naspeurbaarheid geskep.
” Naspeurbaarheid is ‘n belegging in die toekoms.
“Dit beskerm diere, produsente en markte om saam te bou aan ’n veilige, volhoubare rooivleisbedryf vir die toekoms.”

Wessels het ook oor die siekte en tekens gesels.
Wat is BEK?
Bek-en klouseer is ‘n ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte van vee wat ‘n beduidende ekonomiese impak het. Die siekte raak beeste, varke, skape, bokke en ander gesplete-hoefdiere.
Die virus kom voor in alle liggaams-vloeistowe (speeksel, urine, ontlasting, melk) en in die lug wat siek diere uitasem.
Vervoer van diere?
Die volgende dokumente MOET diere wat vervoer word, vergesel:
‘n Eienaarsverklaring wat plek van oorsprong, hul gesondheidstatus en bestemming bevat.
‘n Ontvangerverklaring
‘n Gesondheidsverklaring
Artikel 6- en 8-sertifikate van die Veediefstalwet 57 van 1959.
Wat is die tekens/simptome van BEK by Beeste, Skape, Bokke en Varke
By Beeste
Hoë koors & bewe
Speekselafskeiding & kwyl
Gewigsverlies
Eetlusverloor
Mankheid
Verlaagde melkproduksie
Ligte tot ernstige letsels op pote
By Skaap en Bok
Hoë koors
Mankheid
Letsels en sere op pote
Lae melkproduksie
Aborsie by ooie en/of dood van pasgeborenes
Mondsere
By Varke
Lamheid (eerste tekens)
Letsels (hoewe en snoet)
Verminderde eetlus
Mondsere
Hoë koors
Dood van pasgeborenes
