Klubs se ratte aan die rol vir nuwe seisoen
Die 2026 klubrugbyseisoen in die Boland begin stadig aan die gang kom met die meeste klubs wat ‘n klompie vriendskaplike wedstryde speel voor die liga oor ‘n maand op 7 Maart afskop.
Die laaste naweek van Februarie neem klubs in die Swartland munisipale area op Moorreesburg aan die Burgemeesterstoernooi deel.

In die provinsie se top-liga – Grootuitdaag – is daar ‘n een verandering in die Swartland-streek met Koringberg wat opgeskuif het in die liga en Voorberg wat nie vanjaar daar meeding nie.
Koringberg het verlede jaar in die Streekuitdaag meegeding en tot in die eindstryd van die Boland se Super 16-kompetisie in dié liga gevorder. Daar het hulle as naaswenners prysgeld van R40 000 ontvang.
In die Swartland-afdeling van die Grootuitdaag is daar vanjaar weer 12 spanne wat mekaar die stryd gaan aansê om die titel as Swartlandkampioen.
Wesbank het verlede jaar dié Swartlandtitel gebuit ná ‘n goeie tweede helfte van die seisoen met Abbotsdale, uiteindelik die naaswenner, wat die liga gelei het tot ná die agtste-ronde-kragmetings op 3 Mei 2025.
Die Boland se Grootuitdaagkampioen vir 2025 was die Weskusspan Saldanha wat in die eindstryd van die Top-12 met Roses United van Wellington afgereken het.
Verskeie klubs spog vanjaar met splinternuwe afrigter- en bestuuspanne en daar het ook heelparty spelerskuiwe plaasgevind.
Abbotsdale het die dienste van Paarlse oud-Springboksenter Wayne Julies (47) bekom as hoofafrigter met nog ‘n oud-Springboksewesspeler Rayno Benjamin (42) wat as agterspelerafrigter sal diens doen. Die voorspelers sal deur Warwick May gebrei word.

Julies, wat aan Charleston Hill Sekondêr gematrikuleer het, het tussen 1999 en 2007 in 11 toetse vir die Springbokke gespeel. Hy het onder meer ook vir die Boland Kavaliers, Blou Bulle, Vrystaat, Goue Leeus en die Franse klub Aix-en-Provence uitgedraf. Hy het intussen vir 14 jaar by etlike klubs afgerig.
Benjamin, ‘n boorling van die Weskus, het in sy spelersdae vir onder meer die Boland Kavaliers, die Stormers, Goue Leeus en die Vrystaat uitgedraf.
By Wesbank sal oud-Springbokvleuel McNeil Hendricks (52), ‘n oud-leerder van Schoonspruit Sekondêr, weer die afrigterspan lei. Hy het in sy spelerdae vir onder meer die Bulls, Cheetahs en die Griekwas uitgedraf.
Hendricks sal by die Koringboere weer bygestaan word deur Emgee Fredericks (voorspelers) en Monray Liebenberg (agterspelers).

Op Darling neem een van die klub se sterspelers tot onlangs op losskakel en heelagter, Earl Lewis (38), die pos as hoofafrigter met Fabian Brandt (voorspelers) en Renzel Botman (agterspelers) as sy assistente. Lewis, ‘n boorling van Darling, het as speler onder meer Boland o.18 Cravenweek gespeel en later ook vir die Boland Kavaliers en Golden Lions uitgedraf.
Afrigterspanne van van die ander Swartlandse klubs in die Grootuitdaag:
Moorreesburg – Hoofafrigter: Michael Smith; Agterspelers: Dirk Bester; Voorspelers: Sherman Faro
Riebeek United – Hoofafrigter: Lloyd Lingeveldt.
Porterville – Hoofafrigter: Kiffie Saayman, bygestaan deur AJ Cloete en Martin van Wielies.
