EntertainmentLatest

Willemse dokumenteer, roer met Disrupt

Johan Viljoen

ontheem en
ontwrig
Die boeke toemaak
Die boeke oppak
Die boeke iewers elders,
in ‘n nuwe tuiste, uitpak
Regpak
Rondskuif
Regskuif
Meet en pas …
en net sommige van hulle weer daar te kan oopmaak
.
Die blokkies van die blokkiesvloer vertel die storie van daardie spesifieke huis
daardie tuiste
daardie ontheemding en
daardie ontwrigting

In ‘n geskiedkundige gebou in Commercialstraat in Kaapstad (Union House) neem die Swartland en Riebeekvallei se bekroonde konseptuele kunstenaar en kunsopvoeder Emma Willemse jou op só ‘n reis: Eenhonderd en een maniere om te verlang na ‘n huis. – Eintlik “101 Ways to long for a home
Dit is, vertel Willemse, slegs die tweede keer dat al 101 van haar handgemaakte boeke saam uitgestal word. Seleksies daarvan het al oor die wêreld gereis na plekke soos Frankryk, Italië en Senegal en die storie op uitstallings vertel. Maar sy beskou dit eintlik as een werk.
Die boeke maak deel uit van dié uitstalling: Disrupt.


Oor ontheemding vertel Willemse dit het begin in die 90’s toe sy etlike kere uit haar wonings gedwing is – ontheem is. Dit was vir haar baie traumaties. Ontwrigtend. Sy vertel ‘n huismaat het haar die een keer laat weet die dag toe hulle die een huis sou sloop.
Sy het daar afgekom op hope puin. Tussenin was hope blokkies van die blokkiesvloere – (parquet flooring).
Dit is al wat sy kon neem en sy het ‘n klomp blokkies saam met haar gevat.
Later, in 2013, het sy die eerste van haar boeke gemaak.

Dit het toe gegroei tot ‘n “taal” om die storie te vertel. Die eerste boek is getiteld The Weeping book toe volg The Grieving Book en die res – verskillende tipes boekontwerpe. Onder andere bootboeke, konsertinaboeke en houerboeke.
Sy het later ook in Woodstock die blokkies van blokkiesvloere wat daar met die ontheemding van mense uitgebreek is, gekry vir haar kunswerke.
Willemse het ‘n verskeidenheid tegnieke en materiale gebruik in die druk- en bindwerk en samestelling van die reeks boeke. Elke omslag is van vloerblokkies, waarvan sommige ook middeldeur gesny is. In baie word die blokkies die blaaie van die boek.
Dit is nie die gladde gepoleerde kante van die blokkies wat sy gebruik het nie, maar die unieke onderkante met die reste van waar dit op velerlei maniere vasgesit, en toe uitgebreek is.

“As hierdie blokkies net kon praat. Vertel wat daar in daardie kamer gesê is. Wat daar gefluister is en wat daar geskree is.”
Die Spier Kunstrust besit die potblou vierverdiepinggebou in Commercialstraat. Hier het eeue gelede bote teen die geboue vasgemeer. Die water het tot daar gekom. Dit was ‘n tekstielgebou.
Die kunstrust het vroeër van Willemse se werke aangekoop en dit maak nou deel van hul versameling uit.
Sommige van die werke was in 2018 op die 1:54 African Art Fair in Londen en is nou die eerste keer op tuisbodem te sien.
Die uitstalling bevat ook verskeie splinternuwe werke.
Hulle het onlangs besluit om die grondvloer as uitstalruimte te begin gebruik en “Disrupt” is die eerste uitstalling daar.
Die uitstalling bevat nie net die 101 boeke nie, maar ook ander installasies en kunswerke.
Die uitstalling duur tot 29 September en kan op afspraak besigtig word.

Willemse ontvang en gesels gisteraand met gaste wat die uitstalling besoek en doen ook ‘n uitvoering by een van die uitstaltafels. Met ‘n donkerbril wat die liggaamsvensters tydelik verberg, pak en skuif sy in stilte die boeke – groot en klein – op die tafel rond. Sommige van die boeke wat sy weer oop maak, het unieke klanke en dan draai sy die uurglas weer om… vir ‘n nuwe hoofstuk.

Bote is ‘n sterk tema in Willemse se werk met etlike bootinstallasies.
Sy vertel een van die bote wat ook op die uitstalling moet wees, lê nog op ‘n boot in die hawe onderweg terug van Europe.
En wanneer dit wel ontskeep word, sal dit by hierdie uitstalling in dié ou Union House, voorheen aan die waterfront, gevoeg word.

Komponis en musikant Michael Blake het ook na aanleidinge van Willemse se werk ‘n nuwe musiekstuk gekomponeer wat hy inkorporeer met ‘n klankbaan van onder meer die opgeneemde klanke van die boeke wat “gespeel” word. Hy sal dié stuk op 29 September by die uitstalling in Union House uitvoer.

In die een hoek van die vloer speel daar ook ‘n uittreksel uit die dokumentêre film Diplaced wat Victor van Aswegen oor Willemse se werk gemaak het. Dié film het reeds op die internasionale verhoog naam gemaak by die Älvsbyn-filmfees in Swede, die Beyond the Curve-filmfees in Frankryk en die Hollywood Indie Filmtoekennings.
Dit is beskikbaar op Vimeo https://vimeo.com/ondemand/displaced. Voorskou by http://www.vimeo.com/cinesouth/trailer-displaced

Gepols oor haar pad vorentoe met boeke maak, sê Willemse, sy het nou eers die boek daarop toegemaak.
Tyd vir ‘n nuwe taal.
“Dalk gaan ek vir ‘n jaar ‘n breek vat en daaraan werk om ‘n nuwe taal te ontrafel.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!