Wesbank, Lillies behaal groot seges
Boland Rugby se 2026-Grootuitdaagliga het die naweek afgeskop en sommige klubs was vinnig uit die blokke.
Die liga word in ses streke – BreëLangeberg, Noordweste, Overberg, Swartland, Weskus en WitSentraal – beslis.
In die Swartland het dié streek se kampioen van 2025, Wesbank, op hul tuisveld die besoekende Koringberg die stryd aangesê. Laasgenoemde het vanjaar na dié liga opgeskuif.

Die besoekers het aanvanklik goed slag gebied met die wind in hul blaaie.
Wesbank het druk begin toepas en is toe met ‘n strafdrie beloon om die telbord aan die rol te sit.
Hierna het Koringberg ‘n strafdoel behaal.
Met die omdraaislag het die tuisspan egter reeds nog twee onverdoelde drieë behaal om te gaan water drink met die telling op 17-3.
In die tweede helfte was dit egter ‘n perd van ‘n ander kleur.
Die tuisspan het met die wind van agter na ‘n hoër rat oorgeskakel en gereeld agter hul opponente se doellyn voor die klubhuis begin kuier.

Nie minder nie as sewe drieë en vyf suksesvolle doelskoppe vir die Wesbank in die tweede helfte het aan hulle ‘n allemintige sege van 62-3 oor die besoekers besorg.
Dit is nog vroeg in die seisoen en die ratte van samespel en hantering is nog nie heeltemal geolie nie, maar toeskouers kon nietemin oomblikke van briljantheid en kragspel beleef.
Wesbank het met hul sege vroeg-vroeg die eersteplek op die punteleer ingeneem met hul die volle 5 ligapunte.
Verlede jaar se naaswenner in die Swartland, Abbotsdale, het hul veldtog ook met ‘n tuiswedstryd afgeskop. Hulle was gasheer vir Riebeek United.
Lillies het die telbord geopen toe hulle agter die besoekers uit die Riebeekvallei se doellyn gaan kuier het.
Hierna het beide spanne elk ‘n drie aangeteken, maar die tuisspan het die oorhand begin kry en ook die drieë begin inryg vir hul sege van 48-7.
Lillies is tans tweede op die punteleer (5 ligapunte).

Op Porterville het die tuisspan gasheer gespeel vir Good Hopes. Porterville was te sterk vir die besoekers van Riebeek-Wes en het die kragmeting met 40-21 gwen. Hulle beklee ná die eerste naweek die derde plek op die punte leer (ook 5 ligapunte),
Saron het die Melkboere van Darling ontvang en moes hard werk om naelskraap met 34-32 oor die besoekers te seëvier. Saron is tans vierde op die punteleer.
In die ander kragmetings het Moorreesburg tuis vasgeval teen Mamre (10-22) en Villagers Wittewater het met twee punte (20-18) hul tuiswedstryd teen Never Despair gewen.
Die spelrooster vir Saterdag 14 Maart (tuisspanne eerste):
Never Despair teen Porterville
Good Hopes teen Saron
Darling teen Mamre
Moorreesburg teen Abbotsdale
Riebeek United teen Wesbank
Koringberg teen Villagers Wittewater

*Die afgelope Saterdag se uitslae van die Streekuitdaagliga (SwartWeskus-afdeling):
Broodkraal vs Flying Eagles Malmesbury: 33-36
Coronations vs White Spirits: 41-14
Mountain Eagles vs Zebras: 12-27
Universals Hopefield vs Young Eagles (D): 7-47
Voorberg vs Louwville: 55-26
Young Tigers Darling vs Malmesbury: 39-12
