Agri/BusinessLatest

40 Jaar: Swartland Wyn- & Olyfroete verjaar vandag

Op 6 Maart 1986 het wynprodusente in die Swartland op Doornkuil bymekaar gekom en die Swartland Wyntrust, voorloper van vandag se Swartland Wyn- & Olyfroete, gestig.
Met slegs ‘n handjievol produsente – heelwat minder as vandag- het dié baanbrekers die weg gebaan vir ‘n streek wat vandag wêreldwyd bekend is en al meer gewild raak vir die besondere produkte wat dit lewer.

Op die vergadering in 1986 is Hennie Smit, KWV-direkteur, eenparig tot eerste voorsitter van die Swartland verkies.
Henk Bruwer (Riebeek Wynboere) was die eerste vise-voorsitter en Marius Erasmus van Swartland Wynkelder die eerste sekretaris.

Die “Street Party” is jaarliks een van die hoogtepunte op die Swartland Wyn- en Olyfroete se kalender

Die aanvanklike ses produsente was Allesverloren, Mamreweg (deesdae Darling), Riebeek Kelder (deesdae Riebeek Valley Wine Co), Porterville Wynkelder, Swartland Kelder en Winkelshoek.

Sedert die stigting van die roete het Darling ‘n wyn van oorsprong streek op hul eie geraak, maar die Swartland wynstreek strek (om Darling) steeds tot teen die see by Yzerfontein en ook verder noord teen die Weskus.
Die naam Swartland Wyn- & Olyfroete is mettertyd gevestig om ook olyfprodusente in te sluit.
Die ledetal het intussen tot meer as 30 wynprodusente en 5 olyfprodusente gegroei.

Die bestuurder van die roete, Jolene Janse van Rensburg, beskryf die samewerking tussen lede – van die grootste tot die kleinste – as een van die aspekte wat vir haar uitstaan as van die belangrikste suksesse en voordele wat dit vir die produsente inhou.

Die roete sê in ‘n verjaarsdagverklaring: “Vandag vier ons nie net die wyne nie, maar ook die mense – die boere, wynmakers, diegene met visie en ondersteuners wat gehelp het om die Swartland te vorm tot wat dit vandag is. Hul konsekwentheid, passie en liefde vir die grond en die streek het iets werklik merkwaardig gebou.
“Die Swartland is nie net ‘n wynstreek nie – dis ‘n gemeenskap. Terwyl ons trots is op die afgelope 40 jaar, is ons selfs meer opgewonde oor wat voorlê.”
Vir meer inligting, besoek www.swartlandwineroute.co.za.

Leave a Reply

error: Content is protected !!