LatestSports

Wesbank verstewig posisie, Saron nou 2de

Al is die wedloop na die einde van die seisoen nog baie lank, moes sommige Swartlandse rugbyspanne in die Boland Grootuitdaag dié naweek behoorlik spook om hul neuse voor te kry of hul posisies op die punteleer te behou.
Wesbank se Koringboere het na Riebeek-Kasteel gereis en die manne van Riebeek-United aangedurf. Nadat beide die besoekers se derde en tweede spanne vasgeval het (22-3 en 20-19 onderskeidelik), was die hoofwedstryd ‘n perd van ‘n ander kleur.

Afrigter McNeil Hendricks se span was net heeltemal te sterk en het ‘n nog groter telling as verlede naweek teen Koringberg behaal. Die eindtelling van Saterdag was 18-85 in die besoekers se guns.
Wesbank het so sy posisie bo-aan die punteleer verstewig en spog tans met ‘n punteverskil van 126 en 10 ligapunte.
Saron is die enigste ander span wat ook tans 10 ligapunte het en beklee die tweede plek nadat hulle Saterdag op Riebeek-Wes die tuisspan van Good Hopes met 38-43 geklop het.
Good Hopes het vroeër in die wedstryd met 21-12 voorgeloop.
Abbotsdale het na Moorreesburg gereis en Lillies se mediabeampte, Heinrich Robertson, berig hul kragmetings teen Moorreesburg was in onlangse jare telkens moeilik en daar is verwag dat dit weer nie ‘n maklike neut sou wees om te kraak nie.
Die besoekers het sterk begin en die spel in warm weer dikteer. Drieë deur Marvin Malgas, Conroy Koopman en plaasvervanger Hylan Appolus het Abbotsdale in ‘n gunstige posisie geplaas met ‘n groot voorsprong van 21-0.
Die tuisspan was egter nie van plan om handdoek in te gooi nie en het in die tweede helfte met mening teruggeveg.
Twee drieë het Moorreesburg sewe punte van ‘n gelykmaker af gebring en ‘n spannende einde opgestel.
Al het Abbotsdale daarin geslaag om vas te hou vir ‘n sege van 21-14 oorwinning, sal hulle nie tevrede wees met die tweede helfte se spel waar die voet ‘n bietjie van die pedaal gelig is nie.
Kaptein Eschelle Josias het wel sy span geloof vir die diep delf om die tuisspan se aanslag af te weer.
“Ons vertoning vandag was nie perfek nie en die toestande het dinge nie makliker gemaak nie. Ons het geweet Moorreesburg sou hard teen ons te staan kom en hulle kan trots wees op hul terugveg, maar die manne het beslis genoeg gedoen om hierdie een deur te trek,” het Josias gesê.
Abbotsdale is tans derde op die puntetabel met 9 ligapunte.
Slegte nuus vir Lillies is dat die voormalige Boland o.21-skrumskakel Conroy Koopman ‘n beenbesering opgedoen het en na verwagting vir ‘n paar weke langs die kantlyn sal wees.
Abbotsdale is tans derde op die puntetabel met 9 ligapunte.

In hul derbywedstryd teen Mamre moes Darling Saterdag op hul tuisveld spook vir ‘n sege nadat die besoekers eerste punte op die telbord geplaas het.
Die Melkboere het die agterstand uitgewis en met die omdraaislag met 22-18 voorgeloop voordat hulle die voorsprong na 25-18 kon rek.
Hierop het die besoekers geantwoord – eers met ‘n gelykmaker (25 elk) en toe nog ‘n drie om met 25-32 te lei.
Dissipline deur die besoekers en akkurate stelskopwerk vir die Melkboere het daarna tot vier strafdoele vir die tuisspan en ‘n sege van 37-32 gelei.
In die ander kragmetings van die naweek het Never Despair ‘n tuissege van 44-40 oor Porterville behaal terwyl Koringberg op hul tuisveld met 21-24 teen Villagers Wittewater vasgeval het.
Die spellys vir die komende naweek se wedstryde (tuisspanne eerste):
Wesbank vs Moorreesburg
Abbotsdale vs Darling
Mamre vs Good Hopes
Saron vs Never Despair
Porterville vs Villagers Wittewater
Koringberg vs Riebeek United

Die Swart/Wes-afdeling van die Streekuitdaagliga se uitslae van die afgelope naweek:
Zebras 22, Broodkraal 14; Flying Eagles 22, Universals 11; Young Eagles 32, Young Tigers 23; Malmesbury 30, Coronations 44; White Spirit 7, Voorberg 46; Louwville 38, Mountain Eagles 39.

Leave a Reply

error: Content is protected !!