Vrae oor nuwe PPC-aanleg nog onbeantwoord
Een van die grootste kapitaalprojekte in die geskiedenis van die Swartlandstreek is tans in volle swang. Die nuwe PPC-aanleg op die bestaande perseel buite Riebeek-Wes word tans teen ‘n koste van R3,1 miljard gebou.
Die nuwe aanleg (Projek RK 3) sal 1,5 miljoen ton sement per jaar – ongeveer drie keer meer as die huidige een – produseer.

dié courant het op 8 April ‘n lys van vrae wat deur inwoners en lesers van die Riebeekvallei gevra word, aan dié sementreus gestuur. Hulle het aanvanklik uitstel gevra om die antwoorde teen Woensdag 15 April te verskaf. Ná herhaalde kommunikasie het die vrae tot op hede onbeantwoord gebly. dié courant het die skakelpersoon, Michelle Copans van Aprio Strategic Communications, ingelig dat ons nou die onbeantwoorde vrae sal publiseer.
Ons onderneem om die antwoorde by te werk wanneer ons dit ontvang.
(dié courant het in Julie verlede jaar antwoorde op vrae gepubliseer nadat ons vyf weke daarop gewag het).

Hier volg die jongste vrae:
- Wat is die hoogte van die huidige/ou verbrandingsoonde (kilns) in meter?
- Hoeveel nuwe oonde sal daar wees en wat sal hul hoogte wees?
- Is daar enige ander groot nuwe geboue wat deel sal vorm van die nuwe aanleg met ‘n gevolglike effek op die visuele impak op die omgewing?
- Waarvan word die verhittingsenergie verkry om die huidige oonde te verbrand?
- Word steenkool tans vir hierdie doel vervoer en indien wel, hoeveel vragte per dag/week?
- Hoeveel meer verhittingsenergie sal met die nuwe aanleg benodig word?
- Waar sal die meer verhittingsenergie verkry word wanneer die nuwe aanleg in werking is en wat, min of meer, sal die verhouding tussen die verskillende materiale, soos buitebande, wees?
- Hoe werk lugsuiwering wanneer buitebande verbrand word?
- Hoeveel buitebande sal per dag/week benodig word?

- Sal die aanleg sewe dae per week in produksie wees?
- Hoeveel vragmotorvragte buitebande sal per dag/week ingebring word?
- Word steenkool tans vir hierdie doel ingebring en hoeveel vragmotorvragte per dag/week?
- Sal enige ander grondstowwe van elders na die nuwe aanleg ingebring moet word wanneer dit in produksie is?
- Sal die permanente personeel verhoog word met die sluiting en verskuiwing van die Montague Gardens-verspreidingsterrein en kantore hierheen? Indien wel, hoeveel meer mense sal nou permanent by die Riebeek-Wes-aanleg werk?
- Sommige mense het onlangs in die ou plaashuis op die Delectus-plaas gewoon. Sal daardie huis nou weer permanent bewoon word?

- Die aanleg word gebou deur en in samewerking met die Chinese Sinoma-groep. Sal enige van die oorsese mense voltyds hier aanbly en indien wel, ongeveer hoeveel?
- Hoe sal die nuwe aanleg die luggehalte in die onmiddellike omgewing beïnvloed?
- Wat sal met die ongebruikte grondstof/grond gebeur (drie keer meer as tans?) – of sal die grondhope net meer en groter word?

- Hoeveel vragte sement word tans daagliks/weekliks vanaf die huidige aanleg versend?
- Sal hierdie aantal vragte dus verdriedubbel?
- Hoeveel van die huidige vragmotorvragte materiaal en klaargemaakte sement ry daagliks/weekliks deur Riebeek-Wes en Riebeek-Kasteel? Is daar enige wat tans via Moorreesburg ry en min of meer hoeveel?
- Hoe sal dit verander wanneer die aanleg in volle produksie kom, of sal die roetes dieselfde bly?
- Was die vlak van toename in die totale vragte na en van die nuwe aanleg deel van die aanvanklike goedkeurings of moes die goedkeurings sedertdien deur plaaslike, omgewings- en padowerhede aangepas word om rekening te hou met die toename?

- Sal die ingang/aansluiting van die aanleg na die R311-roete nou ook opgegradeer moet word om die verhoogde verkeer te akkommodeer en kan enige van die vervoer moontlik per spoor gedoen word?
- Wat sal die geraamde effek (persentasie toename) op die waarde van die eiendom wees wanneer die nuwe fasiliteit teen ‘n koste van R3,1 miljard voltooi is? Sal dit tot dieselfde geraamde persentasie toename/voordeel in eiendomsbelasting vir die plaaslike owerheid lei?
