Lillies terug tussen top-vier
Wesbank-derby wag
Die rugbyspan van Darling het Saterdag met hul wegsege oor Koringberg met drie posisies tot die tweede plek op die punteleer van die Swartland-afdeling van die Boland Grootuitdaagliga geklim.
Die Melkboere het rustyd met 10-3 voorgeloop en die kragmeting met 27-11 gewen.
Op die Alfastraat-sportgronde het die tuisspan, Wesbank, wat tot dusver die seisoen nog onoorwonne is, die besoekende Villagers Wittewater, wat voor die kragmeting vyf van sy ses wedstryde gewen het, aangedurf.
Die besoekers uit Die Put het by twee geleenthede in die eerste helfte met twee punte voorgeloop voor die ligavoorlopers die rustydtelling 22-17 in hul guns kon maak.

Wittewater het nie bes gegee nie en die tweede helfte ingelui met twee drieë vir ‘n 9 punt-voorsprong (31-22). Hierna het die tuisspan egter beheer geneem en die wedstryd uiteindelik met 42-31 gewen.
Wesbank is nou met 34 ligapunte gemaklik voor met Darling (2de) op 27 punte.
Op Abbotsdale het die tuisspan wat die vorige week op Wittewater teen Villagers vasgeval het, betreklik maklik met Porterville afgereken.
Lillies was met die omdraaislag reeds met 24-5 voor en het in die tweede helfte nog 26 punte aangeteken om met 50-24 te seëvier.
Dit in aanloop tot Abbotsdale se Derbykragmeting teen Wesbank op Saterdag 2 Mei.
Al is die Koringboere onder afrigterskap van oud-Springbok McNeil Hendricks tans nog onoorwonne, is dié kragmeting altyd ‘n grote vir albei spanne. Lillies, wat deur nog ‘n oud-Springbok, Wayne Julies, afgerig word, kan nooit op hul tuisveld onderskat word nie.

In een van die afgelope Saterdag se ander kragmetings het Never Despair na Riebeek-Kasteel gereis om die tuisspan, wat tot dusver vanjaar nog nie behoorlik uit die blokke kon kom nie, die stryd aan te sê. Vir ‘n deel van die wedstryd het dit gelyk op Riebeek United straks kon verras en hul eerste sege van die seisoen behaal, maar Spairs het ander planne gehad. Hulle het die kragmeting met 20-12 gewen, nadat hulle rustyd met 8-7 voorgeloop het.

Die Riebeekvallei se ander Grootuitdaag-span, Good Hopes, het hul eerste wedstryd van die seisoen gewen toe hulle op hul tuisveld aan die voet van Kasteelberg met 19-14 met die besoekende Moorreesburg afgereken het.
Op Mamre het die tuisspan naelskraap met 29-28 met die besoekers van Saron afgereken. Laasgenoemde is steeds derde op die punteleer.
Naas die Lillies/Koringboere-derby van Saterdag, lyk die res van die speellys (tuisspanne eerste) so:
Darling teen Villagers Wittewater
Moorreesburg teen Porterville
Never Despair teen Good Hopes
Riebeek United teen Mamre
Saron teen Koringberg
