Cape Epic 2027: Ryers trap deur Riebeek-Kasteel
Aanstaande jaar se moordende Cape Epic-fietstoer oor meer as 700 km sluit ‘n skof deur Riebeek-Kasteel oor Botmaskloof en Porseleinberg in.

Vir agt dae pak die spanne van twee ryers ‘n roete wat gekenmerk word deur uitdagings, deursettingsvermoë en ontdekking.
Die toer skop op 21 Maart af met ‘n proloog van 27 km by die Lourensford-wynlandgoed in Somerset-Wes.
Die eerste vier skofte word in die Ceres- en Tulbagh-distrikte beslis waar deelnemers onder meer die hoogste punt ooit in die wedren se geskiedenis op Waboomsberg by Ceres sal aandurf.
Daarna sal die vyfde skof op 26 Maart oor 114 km van Saronsberg by Tulbagh via Gouda en Riebeek-Kasteel tot by Wellington strek.
Dié skof sluit klimwerk van 2 350m in, maar ook lange ente van oop Swartlandse grondpaaie asook vir ‘n kort entjie die teerstrate van Riebeek-Kasteel voor dit weer tyd is om te begin klim vir asemrowende vistas voor die roete weer sal vir die laaste been van die skof na Wellington.

Die oorblywende twee skofte word dan in die Wellington-distrik beslis voor die toer ook in Wellington eindig.
Vir die afgelope toer vroeër vanjaar was die inskrywings beperk tot 1 360 fietsryers (680 spanne) met ‘n ewe groot aantal organisering/ondersteuningspersoneel.
