Moorreesburg slaggereed vir Swartlandskou ’25
3 tot 6 September
September is skoutyd met die Wes-Kaap se grootste landbouskou, die Swartlandskou, wat weer van Woensdag tot Saterdag op die Moorreesburg Skougronde plaasvind.

Die tafel is reeds gedek vir die tentoonstelling van top-diere, -landboumasjinerie, -voertuie, -leefstylprodukte en -vaardighede asook landbou-inligtingsgesprekke en vermaak vir elke smaak.
Die Swartlandskou het oudergewoonte op ‘n hoë noot afgeskop met die skoudans van Vrydagaand waar die skoukoningin vir 2025, Anja Visser, en haar twee prinsesse, Nina Hanekom en Leán Truter, ook aangewys is.

Besoekers kan vanjaar weer uitsien na ‘n propvol program en talle kampioenskappe.
In die beesafdeling is daar agt rasse wat sake om hul onderskeie titels gaan uitspook en ook uiteindelik meeding om die Goue Beker-trofeë wat Saterdag oorhandig word. Die rasse is: SA Angus Swart (Streekskampioenskappe), SA Angus Rooi (Streekskampioenskappe), SA Hereford (Streekskampioenskappe), SA Simentalers (Wynland Streekskampioenskappe), SA Santa Gertrudis (Streekskampioenskappe), SA Charolais (Streekskampioenskappe), SA Sussex (Streekskampioenskappe) en SA Romagnola.
In die arena sal die Nasionale SA Vlaam Kampioenskappe en die WP Saalperd Streekskampioenskappe beslis word.
Die perdeprogram bereik Saterdag sy hoogtepunt met onder meer die kampioenskap vir die SA Vlaam wa-span van 8 wat altyd die belangstelling gaande het asook die Saalperd siertuig-, enkeltuig- en 5-gang kampioenskappe.

In die kleinvee-afdeling is daar naas die Merino Kampioenskappe en SA Vleismerino Super 10 Kampioenskappe ook die Swartlandskou Skeerkampioenskappe en ‘n interrasuitstalling.
Die Skaapskeer- en Wolhantering-kampioenskappe word aangebied in samewerking met die Suid Afrikaanse Skaapskeerfederasie en dr. Jasper Cloete van die Elsenburg Landboukollege. Skeerders kan hier kwalifiseer vir die 2026 Nasionale Kampioenskappe.
Die Swartlandskou se Wes-Kaap Kwalifiserende Streekjeugskou vind ook Woensdag plaas.
In die Jeugskou word die kinders se vaardighede beoordeel in die volgende afdelings: vleisbees, melkbees, vleisskaap, wolskaap, Boerbok, melkbok, Angorabok. pluimvee, sierduiwe, wedvlugduiwe, kulinêre kuns, suiwelbereiding, fotografie (kamera), fotografie (selfoon), konyne en die jong afslaers-kompetisie.
Daar is ook weer vanjaar die pluimveeskou wat deur die Wes-Kaap Pluimveeklub behartig word.

Een van die jaarlikse hoogtepunte op die skouprogram is die Damesdag wat Woensdag plaasvind.
Die groep Boys R Back sal die meer as 500 gaste terugneem in die goue era van “boy bands” en Lizz Meiring doen haar solostuk Die “Real Housewife”.
Vrydagoggend is daar weer die jaarlikse landbouseminaar waar landbousake van die dag bepreek word en die Weskus Distriksmunisipaliteit het ook weer ‘n tent waar sprekers elke dag landbousake sal toelig.
By Donderdagaand se Novelty Veiling word die wenners in die slaglamkompetisie aangekondig.
Maak seker jy loop nie die leefstyluitstallings mis nie en natuurlik is daar ook weer ‘n groot verskeidenheid restaurante en kosstalletjies en volop vermaak vir oud en jonk met top-kunstenaars wat optree. Onder hulle tel Wynand en Cheree, DJ Louis van Lill, Brendan Peyper, New Horizon, DJ Wico, Chris Rain, Ruan Theron, Irene-Louise Van Wyk, Tamlyn Wessels, ONS, Chris Steyn, Danny Smoke en DJ Stevie.

Daar is ook vanjaar ‘n nuwe speelpark met toesig vir die kleinspan. Die kinders kan ook deel in die pret met kulkunstenaar Juldie, Step-by-Step Dansskool en Lollos,
Kaartjies vir die skou is reeds op die net beskikbaar by https://tickets.tixsa.co.za/event/swartlandskou-moorreesburg
