'n Kykie in die ParlementLatestNeffens die Voorblad

Want DIEN is waaroor dit gaan

Swartlander en lid van die Parlement asook die DA se skaduminister vir vervoer en hul kiesafdelingshoof vir Bergrivier, Chris Hunsinger, sal voortaan vir dié courant ‘n rubriek behartig oor parlementsake.

Met ‘n bietjie meer as ‘n maand ná die onlangse twee weke reses-periode is almal weer druk besig in komitees en sittings.

Dit mag die indruk skep dat die 490 lede van die parlement skaars begin het ná die verkiesing van 8 Mei 2019 en sommer alreeds met verlof was – 400 in die Nasionale Vergadering en 90 in die Nasionale Raad van Provinsies.

Feit is dat, dienooreenkomstig die verskillende nasionale departemente, elke lid van die parlement (LP) toegewys word aan ‘n munisipale gebied of streek asook aan een van die veertigtal portefeuljes soos vervoer, opvoeding, onderwys, korrektiewe dienste, ens.

Gedurende hierdie laaste kwartaal word al die verskillende departemente via die portefeuljekomitees se prestasies beoordeel as deel van die aanpassings van die mediumtermyn-begroting te midde daarvan dat daar in hierdie sesde parlement ‘n rekord aantal van 14 partye met ‘n groot aantal nuwe lede is wat vir die eerste keer hiermee te doen het.

In aanloop tot die goedkeuring, al dan nie, van elkeen van hierdie departementele beoordelingsverslae, was daar 187 komiteevergaderings gehou waarvan 152 portefeuljevergaderings van die Nasionale Vergadering.

Baie van hierdie sittings het tot laatnag geduur sodat elkeen ‘n verslag kan saamstel aan die hand van hierdie beoordelings van finansies en strategie-uitvoering deur elke department.

Hierbenewens was daar ook 11 sittings waar elkeen van die twee Parlementêre huise, met onderskeidelik 400 en 90 lede, vergader het om sake soos die werkloosheidskrisis, kriminaliteit en geweld, xenofobie en ander te debateer.

Daar was nie baie kans vir wetgewing nie te midde van die feit dat 39 wetsontwerpe in die vorige vyfde Parlementêre termyn nie goedgekeur kon word nie en verval het.

Dit beteken dat hierdie wetsontwerpe weer herleef kan word en deel word van hierdie termyn.

Die huidige kwartaal was egter gedomineer deur die spesiale verkrygingswetsontwerp wat aan ESKOM addisionele fondse besorg het vir die volgende finansiële jaar.

Teen die einde van die tweede kwartaal is daar reeds 584 skriftelike vrae aan die verskillende departemente geloods, waarvan 297 nog onbeantwoord is.

Vir nuwelinge in die parlement voel dit alles nog baie vreemd en die verantwoordelikheid oorweldigend. Daar is min tyd vir terug sit en reses beteken eintlik jy moet inklim en betrokke wees by jou toegedeelde kiesafdeling – ‘n ander hoed wat jy saam kry met die groot “JA, ek is bereid om te dien”, want DIEN is waaroor dit gaan.

Enige lid van die publiek kan skakel met hul plaaslike publieke verteenwoordiger indien daar kwessies is wat aan ‘n departement of minister gerig moet word vir uitklaring, navraag of probleem.

Raadpleeg hierdie skakel om uit te vind wie jou raadslid is wat jou na die toegewese parlementslid oor jou area kan verwys. https://www.pa.org.za

Leave a Reply

error: Content is protected !!