LatestSports

Namibia se Kudus speel in Wesbank Sewes

Die Wesbank-sewestoernooi wat jaarliks groot deelname en toeskouergetalle na Malmesbury lok, sal op 24 en 25 Januarie 2020 die eerste keer ook ‘n internasionale span insluit.
Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die toernooi dat ‘n internasionale span of klub by die toernooi betrek sal word .
Volgens die toernooidirekteur, Eduann Howburg, het die Kudus Rugbyklub van Windhoek/Walvisbaai, die huidige Namibia Sewes-kampioen, hul deelname bevestig.


“Die Namibiërs se bestuurspan sê hulle ‘sien werklik uit na die span se deelname aan die Wesbank-toernooi’.
Dié span, wat reeds die Donderdag in Malmesbury sal aankom, sal in Schoonspruit Sekondêr se koshuis tuisgaan.
Howburg het gesê daar sal weer meer as 50 klubs van oor die hele Wes-Kaap deelneem aan die toernooi wat oor twee dae beslis sal word.
Die bestuur van Wesbank het ook reeds die totale prysgeld van die toernooi verhoog na R50 000.


Naas die Namibiërs het die Gold Cup-kampioenspan, Durbell, asook twee top-spanne uit die Varsity Beker Sewestoernooi Maties en UWK reeds hul deelname bevestig.
Die Boland se nuwe Groot Uitdaagbekerkampioen, Saldanhabaai, en die span van Roses-United sal ook weer in aksie wees.
Howburg sê Wesbank Rugbyklub se bestuur wil dié keer ‘n nóg groter toernooi vir die gemeenskap aanbied.
“Onderhandelinge met SuperSpar, Castle Lager (SAB) asook Coca-Cola is reeds in ‘n gevorderde stadium en daar is ook planne om nog meer nuwe borge asook die Swartland Munisipaliteit te betrek as vennote van die toernooi.”
Inskrywings sluit reeds op 30 November en indien klubs nog wil inskryf, moet hulle dit spoedig doen weens die gewildheid van die toernooi en die beskikbare plek raak nader aan die sluitingsdatum vinnig vol. Vir navrae kontak Howburg by 071 920 1345.

Leave a Reply

error: Content is protected !!