EntertainmentFEATUREDOns Mense

Pieter-Jans sing op Riebeek

In ‘n koshuiskamer van die Pionierskool op Worcester het hy oor en oor na die ou CD van Green Day geluister en snit 3, Boulevard of Broken Dreams, was die een wat sy aandag getrek het toe hy ‘n liedjie moes kies vir die skool se talentaand.
Pieter-Jans Dürr was in graad 7 en wen toe die afdeling met sy vertolking van die lied.

“Ek het van die lied gehou en gedink die lirieke is maklik om te leer.” Hy het daarna begin kitaar speel en ook later by Hoërskool Swartland in talentkompetisies gesing en sanglesse begin neem.
Pas terug van sy en Gian Groen se sege die afgelope naweek in die gewilde Pioneer-tydren, het hy met dié courant gesels.
Dié paar het verlede jaar tweede geëindig in die tydren wat ook voorheen deur sy suster Elna en sanger Kevin Leo gewen is.

Hy vertel dat al die deelnemers in verskillende Audi-modelle deelgeneem het aan die tydren oor omtrent 200km. Bekendes bestuur die motors en siggestremde deelnemers tree as navigators op om die kontrolepunte op voorgeskrewe tye te bereik.
Van die ander bekende deelnemers aan vanjaar se tydren was premier Alan Winde, Martelize Brink, Kobus Wiese, Margit Meyer-Rödenbeck, Dewald Wasserfal, Wicus van der Merwe, Pietman Geldenhuys, Willem Botha en Toks van der Linde.
Terug by sy musiek. Pieter-Jans wil dit graag sy loopbaan maak.

Ons sit in die sitkamer en hy vertel van sy optredes in voorprogamme in die Boer vir Kevin Leo en Jannie Moolman.
Hy was ook deel van die produksie ‘n Dag in Tyd wat vanjaar vir die Woordfees op Stellenbosch bygewerk en Mathys Roets, Matthys Maree, Kevin Leo en Nic de Jager ingesluit het.
Met die 100 jaar-vieringe van die SA Biblioteek vir Blindes in Grahamstad in Junie vanjaar was hy ook deel van die produksie “Blind Date” wat op die Nasionale Kunstefees bekroon is. Onder die bekendes in dié produksie was Steve Kekana en dr. William Rowland.
Pieter-Jans se ouer suster Elna bespeel die dwarsfluit en het ook in die produksies opgetree.

Elna Dürr, Fiks Mahola en Pieter-Jans Dürr in Grahamstad vir die optrede vir die 100 jaar-vieringe van die SA Biblioteek vir Blindes. Foto: Facebook

Die twee het nog ‘n suster en broer, Karli en John-William. Oor ander musiektalent in die familie onthou Mari, hul ma, dat haar pa en van sy sibbe altyd musiek gemaak het en haas elke instrument kon bespeel.
Pieter-Jans skryf ook self liedjies en beskryf sy styl as “iets tussen country en rock”, terwyl hy naas dié genres ook na metal luister.
Sy gunsteling coutry-sanger is Johnny Cash en hy hou ook van Willie Nelson.
Deesdae sing Pieter-Jans gereeld by die Swartland Straatmark by Bill en Co en later vandeesmaand het hy ‘n uurlange solo-optrede by die La Parilla restaurant op Riebeek-Kasteel.
Ons dwaal af na die operasieletsel op sy voorarm.
Dit is waar die chirurg are verbind het vir die moontlike dialise waarmee hy straks eersdaags moet begin.
Hulle het onlangs eers ontdek dat hy en sy twee susters wat siggestrem is met retinitis pigmentosa (RP) ook aan die aftakeling van die niere ly en dat hul nieroorplantings of dialise sal benodig.
“Daar is heelwat mense wat nou al gesê het dat hulle graag niere wil skenk. Maar nie almal het die regte bloedgroep – O of B – nie. En dan is daar nog talle toetse om te doen om versoenbaarheid te bepaal.”
Dit is juis ‘n vrywilliger wat ontdek het dat sy nie die regte bloedgroep het nie, wat toe besluit om vir hom die optrede op Riebeek-Kasteel te reel.


Pieter-Jans, wat ook al in die Jamrock Teater in Brackenfell gesing het, sê sy gunsteling plaaslike sangers is Jan Blohm en Gian Groen.
Musiek is ook terapeuties en hy het ‘n lied geskryf om die dood van sy meisie verlede jaar te verwerk.
“Dit was soos ‘n blok, tot ek besef ek kan ‘n liedjie daaroor skryf om oor dit te kom.
“Ek het My Last Goodbye ook op Grahamstad gesing. Dit is ‘n baie emosionele lied, maar die mense het daarvan gehou.”
Ons groet en ek besef weer: Waar ‘n wil is!!!
En dan kom Johnny Cash se aanhaling kuier: “I found out that there weren’t too many limitations, if I did it my way.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!