Op ‘n reis deur Malmesbury in tyd
Hier het van die vroegste tye af mense gewoon. Die gereedskap uit die steentydperk wat al in die omgewing ontdek is, is die bewys daarvan.
Só het historikus, fotograaf en erfeniskenner Chris Murphy gisteraand vertel by die Malmesbury Museum.
Murphy het sy praatjie Remembering Malmesbury toegelig met historiese en hedendaagse foto’s.
Naas die bewyse uit die steentydperk, is rotskuns op Kasteelberg weer die bewys dat die San later hier gewoon het.
Later was dit die KhoeKhoe wat onder andere deur hul lewenstyl van die San onderskei word. “Die San was primêr jagters, terwyl die KhoeKhoe weer boere was wat vee aangehou het.”
Murphy het vertel dat Jan Wintervogel in 1655, drie jaar ná die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap, die Dieprivier gevolg het tot waar Malmesbury vandag geleë is en potensiaal gesien vir vestiging. In sy aantekening het hy die San-mense, wat hy raakgeloop het, beskryf.
Bykans ‘n eeu later toe Baron van Imhoff hier aangekom het, “was hy geskok dat hier al 24 families gewoon het maar geen kerk was nie. In daardie tyd was dit ongehoord.”
Op sy aanbeveling is die NG Gemeente toe gestig.
‘n Kerk is gebou en die pastorie het in 1771 gevolg.
Murphy het ook vertel van die putte van Malmesbury wat dit moontlik gemaak het om hier ‘n nedersetting te vestig omdat hier vars drinkwater was.
En van dié putte kan vandag op ‘n ongewone plek binne-in die Lewis-meubelwinkel in Piet Retiefstraat gesien word.
Van die ander putte is op die persele van die ou Seningkerk in Tuinstraat, langs die rivier by Kerkstraat en by die Nuwe Apostoliese kerk in St Francisstraat.
Murphy sê volgens rekords is daar ook een onder die kruising by Voortrekkerstraat en Bokomoweg.
Malmesbury was in die nuus met die slaweopstand in 1808. ‘n Groep aktiviste onder leiding van Louis van Mauritius het na Malmesbury gereis tot by die plaas Vogelgesang waar hulle deur die plaaseienaar, Mnr Louw, se vrou vriendelik ontvang is. Hulle het by die 350 slawe teruggeneem na die Kaap in hul plan om vir vryheid te veg, maar dit het skipbreuk gely.
As erfeniskonsultant sê Murphy is dit belangrik dat historiese geboue eerder gebruik word en ‘n doel dien as om leeg te staan en so te verval.
Anders as vandag met die opgegradeerde N7, het dit volgens ‘n koerantberig uit 1856 agt ure per perdekar geneem vanaf Kaapstad na Malmesbury.
Murphy het ook melding gemaak van van die dorp se erfenisskatte wat reeds verdwyn/gesloop is.
Een daarvan is die ou stadsaal (1855) oorkant die Moederkerk waar die koster se huis voorheen was. Dié stadsaal is in 1953 deur die huidige een vervang. Van die pilare het behoue gebly.
Ook van die pragtuine van die Schoonspruit-opstal (laat 19de of vroeg 20ste eeu) wat só ‘n lushof was dat treine daar gestop het dat passasiers deur die tuin kon stap.
Oor die warmwaterbron waar die De Bron-winkelsentrum vandag staan vertel Murphy dat Jose Burman daaroor in sy boek Waters of the Western Cape skryf dat dit ‘n groot toeriste-attraksie was.
Die St. Thomas Anglikaanse Kerk (nou Nuwe Apostoliese kerk) uit 1859 het aanvanklik ook ‘n ekstra gewel met ‘n klok gehad. Dié het in 1944 ineengestort en is nie weer herbou nie.
Murphy het ook ‘n foto vertoon waar Loedolfhuis oorspronklik sonder die gewel is. Die gewel is later in restourasie bygevoeg.
Die Oulap-woning in Piet Retiefstraat het in die Anglo-boereoorlog as anneks vir die tydelike militêre hospitaal in die Stadsaal gedien as daar t veel pasiënte as.
In die oggendure van 29 September 1905 – omstreeks 05:30 – het ‘n tornado die dorp getref en verwoesting gesaai en baie geboue is nie herbou nie.
Twee seuns en drie volwassenes het in die tornado omgekom.
Die tornado het volgens oorlewering tussen een en twee minute geduur.
Een van die geboue wat herstel is, is die ou Vrymesselaarslosie wat deesdae die plaaslike gemeente van die CRC-kerk huisves.
Murphy sê dit sal goed wees as Malmesbury aktiwiteite aanbied om toeriste na die dorp te lok. “Daar is wel diegene wat die historiese roete besoek, maar die regte aktiwiteite sal aansienlik meer toeriste lok. Dit kan dan selfs ‘n treinroete vir dié doel raak soos dié wat deur die Ceres Rail Company na Grabouw en Ceres bedryf word.”