EntertainmentLatest

Ekspo vier 10 jaar met grote in 2020

Oor minder as drie maande is dit weer tyd vir die gewilde kykNET Buite Ekspo op Môreson langs die N7 buite Malmesbury.
In 2020 vier dié treffer-konsep sy tiende jaar en van 14 tot 16 Februarie 2020 sal dit die 19de keer wees wat die ekspo in Suid-Afrika plaasvind.
Dié buitelugskou trek jaarlikse groot besoekertalle en met die laaste een vroeër vanjaar het net meer as 20 000 besoekers dit bygewoon, wat dit die grootste ekspo van sy soort in die Wes-Kaap maak.
Organiseerder Marius Opperman het destyds gesê die syfer het sy stoutste verwagtinge ver oortref.
Vanweë die sukses van die konsep spog die ekspo ook met baie prominente borge en diensverskaffers, “waarsonder hierdie ekspo nie moontlik sou wees nie,” sê Opperman.

Die geleentheid is hoofsaaklik gemik op buitelewe- en relevante uitstallings en beloof weer om ekspogangers die nuutste produkte te bied.
Uitstallers bly die hele naweek op hulle uitstalruimtes en rig hulleself so in dat die publiek eerstehands kan ervaar hoe die produkte werk.
Al die uitstalareas het maklike toegang tot krag, water en badkamer fasiliteite.
Saam met die uitstallings is daar ‘n klompie ou gunstelingaktiwiteite vir die hele gesin. Dit sluit André de Villiers van Safari 4×4 Roetes se gratis Amarok 4×4-hindernisritte asook veldfiets- en vierwielvertonings en -ritte asook helikopterritte in.
“Ons gaan ons 10de verjaarsdag behoorlik vier. Maak dus so seker om nie die kykNET Buite-Ekspo Verjaarsdag-‘Jol’ van Jimmy’s Steakhouse Sauces met kykNET-sepiesterre mis te loop nie.” Die naweek sal ook weer propvol ander interessante kompetisies en aktiwiteite wees.
Die 2020-ekspo sal weer spog met ‘n kunsmark en ook ‘n splinternuwe Swartland Wyntuin met van die heerlikste wyne en eetgoed uit die streek.
Ekspogangers kan uitsien na selfs meer gekeurde kosverskaffers om in almal se smaak te voorsien. Daar is ook ‘n Castle Light-kroeg en -biertuin en ‘n baie gewilde ‘slush’-tuin om almal se dors te les.

Die splinternuwe Melo3 is onder die gewilde kunstenaars wat in die kykNET-arena sal optree

Al is die kykNET Buite-Ekspo nie ‘n musiekfees nie, sê Opperman, kan besoekers uitsien na optredes deur die Hankook-kunstenaars: Amore, Nadia Louw, Desmond Wells, Pieter Smith, Joe F, Cheree, Wicus vd Merwe, Sam en Calla en Melo3 (SA se splinternuwe ‘girl band’) wat vermaak sal voorsien vir die kuieratmosfeer in die kykNET-hoofarena.
Daar sal weer ‘n groot pretpark wees vir die kinders, terwyl ma en pa die talle uitstallings geniet. Maak ook seker om nie die Sondag se Lollos-vertoning mis te loop nie.
Intussen raak naweekkampering ook vinnig vol. Besprekings kan per e-pos by moresonmalmesbury@gmail.com gedoen word, terwyl besoekers by admin@you2camp.com kan bespreek vir die kitskampering (tente word vooraf vir u opgerig en toegerus).
Belangstellendes kan Opperman kontak by marius@ekspo.co.za of 082 570 5758 vir enige bemarkings- en borgskapnavrae. Vir uitstallersnavrae, kontak vir Tersia by accounts@ekspo.co.za of 071 659 9915.
Besoek die webwerf by www.ekspo.co.za vir meer besonderhede.

Leave a Reply

error: Content is protected !!