LatestSchools

Moorreesburg kry R68m hoërskool

Planne om ‘n nuwe hoërskool vir Moorreesburg te bou, “vorder goed”.
Só het die woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), Paddy Attwell, aan dié courant gesê.
“Die goedgekeurde begroting vir die skool is R68,3 miljoen. Bouwerk sal in Maart 2020 begin, en die eerste leerders sal aan die begin van die 2022 skooljaar gehuisves word.”


Nadat die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke ‘n tender uitgereik het vir die oprigting van die skool, is ‘n inligtingsessie op die terrein gehou vir diegene wat wil tender.

Die skool sal gebou word op ‘n erf (25 360 m²) van die provinsie op die hoek van Landbou- en Piketbergweg.


Volgens die plan, sal die hoofingang uit Landboustraat wees.
Attwell verduidelik die WKOD beplan al ‘n geruime tyd om ‘n nuwe hoërskool in Moorreesburg te bou weens die druk op skole in Malmesbury wat deur baie leerders van Moorreesburg bygewoon word.
“Baie leerders – veral in graad 10 tot 12 – wat in en om Moorreesburg woon, reis na skole in Malmesbury en Piketberg met die vervoer wat deur die WKOD aangebied word.
“Hierdie vervoer is duur vir die departement en tydrowend vir die leerders wat andersins hul tyd aan skoolaktiwiteite of studie kan wy. Dirkie Uys, die enigste hoërskool op Moorreesburg, is vol.”
Volgens inligting van die Departement Openbare Werke sal die nuwe skool ‘n totale vloeroppervlakte van 5 218 m² beslaan.

Die skool is ontwerp om tot 1 110 leerders te akkommodeer en sal ‘n saal insluit.
Die terrein sal twee liggaamsoefeningareas en ‘n sportveld insluit. Ontwikkelaars sal die sportveld voorberei en stabiliseer, maar dit nie beplant nie as gevolg van droogtetoestande.
By navraag het die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, Tijmen van Essen, die nuwe skool verwelkom en gesê dit sal dit net soveel makliker maak vir leerders van Moorreesburg en omgewing en ook die las verlig op ander skole waarheen die kinders tans pendel.
Aanvanklike planne om ook ‘n koshuis by die skool te bou, is eers uitgestel. Die terreinplan van die nuwe skool wat aan dié courant voorsien is, maak voorsiening vir ‘n toekomstige koshuis op die terrein.

Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse Minister van Onderwys, het gesê: “Die nuwe skool is al ‘n geruime tyd aan die kom, maar sal aansienlik bydra tot die voorsiening van gehalte-onderwys in die Moorreesburg-omgewing. Ons sien uit daarna om leerders in 2022 by die skool te verwelkom. ”

Leave a Reply

error: Content is protected !!