Erasmus gesels oor illustrasies vir kinderboek
In die eerste dorp ter wêreld kan die kinders nie slaap nie. En niemand ken enige verhale nie.
Volg Moeder terwyl sy op soek is na ‘n verhaal, deur die land reis en die meerminkoningin se geheime van die oseaan ontdek in hierdie helder en pragtige weergawe van ‘n tradisionele Afrika-verhaal.
Dié splinternuwe kinderboek is in druk. Die Afrika-verhaal is hervertel in die woorde van Griffin Shea en geïllustreer deur Ilse Erasmus, wat reeds twee jaar in die Riebeekvallei woon.
Shea, oorspronklik van die VSA, is ook die uitgewer van die boek deur Bridge Books. Hy vertel The First Story ever Told het ontstaan in ‘n projek om ou stories wat verlore gaan, op te diep en só te verpak dat die moderne kind daarby aanklank sal vind. Die doel in hierdie boek was ook om die teks te reduseer sodat die prente die verhaal visueel help vertel.
“Ek dink die illustreerder het fantastiese werk gedoen,” sê Shea. “Sy het ‘n perfekte storievloei met die beelde geskep.”
Illustreerder Erasmus het die boek die naweek by The Gallery op Riebeek-Kasteel se opening van hul nuwe groepuitstalling, Summertide, aan gaste bekend gestel.
In ‘n onderhoud vertel Erasmus sy “het probeer om ‘n storie te maak wat homself feitlik volledig deur die illustrasies kan vertel.
“Ek het probeer om ‘n klomp verskillende opvallende dinge in Suid-Afrika en opvallende teksture te inkorporeer.”
Sy het met dié courant gesels.
Erasmus het op skool reeds uitgeblink en in matriek ‘n provinsiale akademiese prys ontvang vir haar top-tienposisie in ontwerp.
Sy het nie ná skool kuns studeer nie. “Ek het nie gaan swot nie. Dit was vir my ‘n baie moeilike keuse om te maak met die hele kunsindustrie wat so vinnig beweeg. Dit is makliker om te vra vir kunstenaars wat jy ag of hulle vir jou vir twee weke as ‘n appy wil vat.
“Ek het die meeste van my goed so geleer en ook werkwinkels bygewoon.”
Erasmus het veral ook goeie ondervinding opgedoen as grimeerkunstenaar en liggaamskilder.
Deesdae is sy veral bekend vir haar wynskilderye.
“Die meeste van my uitstallings was as gevolg van die wynskilderye wat ek doen.
“Ek doen natuurlike pigment skilderye met wyne van die area en ek is ook nou besig om te eksperimenteer met pigmente van die omgewing self.”
Sy het al uitgestal by Tokara as ‘n finalis in hul Wine Made Art-uitstalling 2015 en onlangs was van haar werke op die gesogte Lunch with Old bag-liefdadigheidsveiling in Edinburgh, Skotland.
Erasmus het ook ‘n solo-uitstalling van wynskilderye wat bedreigde blomme uit die Darling-omgewing uitbeeld, by Ormonde gehou.
“Ek het ook ‘n permanente uitstalling by die boetiekwynplaas Glenwood Vineyards by Franschhoek waar van my ander stukke ook hang.”
Erasmus vertel sy was verlede jaar saam met ‘n paar ander kunstenaars uit die Riebeekvallei by die Turbine Art Fair betrokke. Daar het Shea die kuns gesien en so het sy by die projek van The First Story ever Told betrokke geraak.
Sy vertel dat sy vanjaar ook nou by die stigting van die Nuwekloof-projek op Riebeek-Kasteel betrokke was, maar dat sy nou slegs vryskutwerk vir Nuwekloof doen.
“Ek het gevind ek is veel beter met kuns as om só ‘n projek te lei.
“Dit is vir my beter om op my eie tyd en met my eie stem te kan bydra as om die hele vallei te probeer verteenwoordig.
“Ek is maar baie liberaal. Ek het gevoel asof ek meer kan sê met my kuns as op ‘n vergadering.”
*The First Story ever Told is beskikbaar by Bridge Books https://bridgebooks.co.za/collections/childrens/products/the-first-story-ever-told
Gaan loer ook in by die facebook-blad: https://www.facebook.com/FirstStoryEverTold/