Nasionale wenfoto’s by Malmesbury gallery uitgestal
Met een van die grootste kompetisies van sy soort het die Swartland Fotografieklub onlangs sy sewende suksesvolle nasionale foto-salon aangebied.
Daar was ses afdelings vir digitale inskrywings en twee vir gedrukte foto’s.
Van die top-inskrywings van oor die hele land in die twee gedrukte afdelings – Ope Kleur en Ope Monokroom – is tans op uitstalling in die Emunah Kunsgallery in die Drie Gewels-sentrum op Malmesbury. Die top-inskrywings in die digitale afdelings word ook vertoon. Die uitstalling duur tot 13 Desember.
Die gallery het nie net ‘n groot verskeidenheid kunswerke op uitstalling en beskikbaar nie, maar bied ook kunsklasse en werkswinkels vir volwassenes en kinders aan en lewer ook ‘n raamdiens vir kunswerke en ander items wat kliënte wil uitstal.
Inskrywings vir vanjaar se Swartland Fotografieklub-salon het die verwagtinge ver oortref. Die bestuur het begroot vir 4925 inskrywings, wat reeds ongehoord baie is vir ‘n nasionale salon. Die totale aantal inskrywings was toe 5626 in die agt afdelings.
Peter Hardcastle het as salondirekteur opgetree en die afdelings is deur panele van die Kaapstad-, Tafelberg-, Tygerberg- en Swartland-Fotografieklubs beoordeel.
Die beoordelaars het vanjaar aan 1354 van die foto’s aanvaardings toegeken.
In die Ope Kleurafdeling vir gedrukte foto’s het Charlaine Gerber van die Photo Challenge Camera Club die eerste twee plekke opgeraap toe sy die PSSA Silwermedalje verower met haar foto In twilight time dream with me awhile asook die Swartland Fotografieklub Silwermedalje vir haar foto Now is not the time.
Kim Stevens (2) en Anna Engelhardt van die Cape Town Photographic Society en Theuns Olivier van die Swartland Fotografieklub het merietesertifikate in dié afdeling ontvang.
In die Ope Monokroomafdeling vir gedrukte foto’s het Charlaine Gerber ook met die louere weggestap toe sy die PSSA Silwermedalje verower het met haar foto Its just the way it changes, like the shoreline and the sea.
Kim Stevens het die Swartland Fotografieklub Silwermedalje ontvang vir haar foto Keep on walking. Sy het ook twee merietesertifikate in dié afdeling ontvang, terwyl die beoordelaars aan Louise de Lange van die Swartland Fotografieklub ook ‘n merietesertifikaat toegeken het.
- Wat is ‘n fotosalon en aanvaardings?
Vroeër jare is kunsuitstallings in Europa deur kunstenaarspanele gereel en hulle het dit salonne genoem. Kunswerke is dan aangebied en beoordelaars het vir die beperkte muurruimte die werke gekeur. Slegs dié wat aanvaar is, is uitgestal.
Dié konsep is oorgedra na vandag se kompetisies en word werke in die fotosalonne ook gekeur met aanvaardings.