Hou stil, geniet N7 – Hunsinger gee blik op reise
Hunsinger, ‘n kenner en ook die DA se nasionale skaduminister vir vervoer, het ‘n boodskap geskryf en gee ‘n insiggewende kykie na statistieke oor padveiligheid en ook die N7-projek:
Die woorde reis en vervoer bring altyd twee beelde by my op. Die een, uit die rolprent Seabiscuit waar Tom Smith, latere afrigter van die legendariese resiesperd met dieselfde naam as die rolprent, met ‘n verslae uitdrukking op sy gesig iets verteenwoordig van die 1930’s. In die toneel vat hy aan die nuwe doringdraadheining wat die oop vlaktes wat hy altyd geken het, skielik begrens.
Die ander prentjie is uit een van Nataniël se kortverhale waar ‘n kosmandjie gepak en uitgehaal is vir ‘n reis van Wellington na die Paarl en kort na die tweede draai buitekant Wellington uitgepak word op die bonnet onder die eerste Bloekomboom.
Beide verhale praat van stadiums in die geskiedenis van vervoer en hoe dit eertyds was, vóór verandering, ‘n filosofiese vraagstuk oor: óf alle verandering inderdaad vooruitgang is?
Die skoolvakansie het aangebreek en hierdie tyd van die jaar is daar ook op van die roetes in die streek ‘n toename in vakansieverkeer.
dié courant het met parlementslid en jarelange Swartlander Chris Hunsinger oor die N7 en vakansieverkeer gesels.
Reis en padvat het in die ou dae nie noodwendig gehandel oor die bestemming of oor hoe vining jy daar kan kom nie. Reisjoernale van die outyd deel met lesers pragtige staaltjies oor hóé die proses van reis eens was, vervleg met episodes van ervaring, ontbering, ontdekking en avontuur toe die fokus op genot was, eerder as soos vandag ‘n reis-taak en spoed.
Reistaak en spoed se prentjie in my kop is dié van ‘n Ma by die De Bron-sentrum wat met lang treë terugkom by haar Citrusdal-kombi vol ongelukkige kinders en ‘n oorlaaide bagasieruim en binne sekondes vir elke kind ‘n stuk hoender in die hand stop nadat die braaihoender oomblikke tevore nog heel was.
Weerskante van die pad ervaar Swartland se landbouers nou ook die ingrypende vernuwing van die nuwe N7 met verskillende emosies. Die meervoud van voordele wat aan die dubbelbaan gekoppel word en waaroor baie van ons opgewonde is, verander baie dinge vir altyd.
Die ou plaasingange wat nou vir die verbyganger soos onnodige konstruksie en soos ‘n onbekende graf lyk, was egter vir baie individue en families van kleintyd af die tuiskomsbaken ná ‘n reis dorp toe, Kaap toe of waarheen ookal – ‘maar nou is ons tuis’. Ook trots, want plaasingange was iets van die mense op daardie stukkie grond. Nou gaan dit soos die karkas van die Kombi-hoeder asblik toe.
Tom Smith se draadvat-oomblik en verbeeldingsvlugte van eenvoud en drome kom ook reeds lank aan met soortgelyke verhale uit die outyd in die Swartland toe daar gepraat is oor die ‘grootpad’ wat kom en waarmee jy sommer ‘hoog-op’ sal kan ry, ‘…miskien sommer tot in Europa’.
Nou is die oop pad tog ook ‘n hindernis, want ‘ons moet ompad ry, óór die oorbrug, net om by die anderkant van die plaas te kom wat net oorkant die grootpad was’. Helaas, vir ander mense het die N7-vernuwing vernuwing van konneksie gebring en ‘n ervaring meegebring wat al vergelyk was met die val van die Berlynse muur met die straat- en voetdeurgange onder die nuwe verbrede N7; iets wat, soortgelyk aan Nataniël se storie, plesier van reis beklemtoon – met piekniektafels van konneksie, interaksie en saamwees ondervang.
En dis wat nuwe strate doen, dit verander die roete; ook in ons koppe. Dit bring verandering.
Tog kan ons steeds fokus op die proses, ontdekking en saamwees – eerder as spoed en vinnig dáárkom. Die onlangse botsingsverslag van die Padverkeersbestuurskorporasie (PVBK of RTMC) weerspieël die noodsaaklikheid van paraatheid en wakkerheid tydens reise op Suid-Afrikaanse paaie.
Aspekte wat hierin uniek is, is soos:
dat daar 1 170 166 ongeregistreerde en onpadwaardige voertuie saam met ons die pad deel,
38% van slagoffers op paaie is voetgangers,
44% van noodlottige botsings is kop aan kop,
30% weens rol en
23% behels meertallige voertuie.
Van die totale aantal noodlottige botsings is 35% ligte voertuie, 22% ligte afleweringsvoertuie, 16% minibus-taxi’s en 14% vragmotors.
Die vernaamste redes vir 90% van botsings is versuim van bedagdheid, waaksaamheid en beheer.
Ander nalatighede en oorsake sluit in ‘n U-draai op onveilige plekke en verontagsaming van verkeersligte en stoptekens.
Nasionaal het ons tans een verkeersbeampte vir elke 725 van die totale 13 miljoen voertuigbestuurders in Suid-Afrika.
Strenger wetgewing sonder gepaardgaande vermeerdering van toepassingskapasiteit is nodeloos.
Hiervan is alkoholgebruik-en-voertuigbestuur ‘n toepaslike voorbeeld: die toelaatbare vlak is in 1996 van 0,08 na 0,05 verminder en die aantal padsterftes van 10 254 in 1996 het toegeneem na 14 050 in 2017 en nie afgeneem nie. Die vermindering van spoedgrense sonder doeltreffende wetstoepassing kan dieselfde uitwerking hê weens ‘n gebrek aan kapasiteit, te midde van goeie intensies.
Ter afsluiting wil ek graag almal ‘n geseënde en veilige reistyd toewens.
Maak dit hierdie jaar anders deur te fokus op die plesier van ry eerder as om te kyk hoe vinnig jy dáár kan kom.
Besluit om tyd tussenin te spandeer en om alles te geniet. Geniet die nuwe pad en waardeer die ou plaasingange. Pak ‘n Nataniël-piekniekmandjie in en gaan soek ‘n Tom Smith wat die outyd se stories graag sal deel.
Ry betyds en werk saam met owerhede wat ons motoriste se belange dien. Waardeer die werk van wetstoepassers en nooddiensbeamptes en geniet reisgenote by elke stop.
- ‘n Bietjie statistiek oor die N7-projek en SANRAL (totale begroting R4,3 miljard):
• Begroting: R505 miljoen
• Begin: Jan 2015
• 500 werksgeleenthede geskep (23% permanente aanstellings)
• 52km dubbelbaan (totaal)
• 13 interseksie-strukture
• By die N7/Hopefield-interseksie is 350 000 mᶾ kleigrond verwyder
• N7/Hopefield-interseksie = R334 miljoen
•
Verder Noordwaarts:
• 133km tussen Vanrhynsdorp en Citrusdal: voltooi
• 28km tussen Citrusdal en Cederberg (R443 miljoen): voltooi
• Citrusdal na Clanwilliam padoppervlak is verbreed van 6,6 meter tot 12,4 meter