FEATURED

Piketberg kry verkeersleersentrum vir kinders

Die verkeersopleidingsentrum vir kinders wat Vrydag op Piketberg geopen is, is opgerig om die verdere besering van kinders te voorkom.
Só het Nina September van die direktoraat Padveiligheidsbestuur (RSM) van die Departement van Vervoer en Openbare Werke tydens die opening van die sentrum by Steynville Primêr gesê.

“Ons wil veral laerskoolleerders en kleuters leer hoe om veilig skool toe en terug te stap. Die sentrum sal ongeveer 800 kinders in Piketberg bedien.”
Die sentrums is ‘n gesimuleerde padomgewing op klein skaal wat by laerskole gebou word en waar kinders kan leer oor padveiligheid in ‘n speelomgewing.
Die vennote van die Padverkeerbestuurskorporasie in die projek op Piketberg was die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die Bergrivier Munisipaliteit.

Padmerke is op die sement/teerblaaie aangebring en klein padtekens word voorsien. Kinders leer oor die reëls van die pad en die werking van verskillende tekens in die sentrum. Munisipale verkeersbeamptes het tydens die bekendstelling ‘n demonstrasie oor verkeersveiligheid gedoen.
September sê verskeie kinders is die afgelope jaar op pad skool toe deur voertuie omgery. As deel van die beveiligingsprojek is die ingang uit Anemoonstraat na ‘n sypad agter die skool verskuif om ‘n veiliger oorgang vir die kinders te verseker.

Leave a Reply

error: Content is protected !!