FEATURED

Swartland se 1ste 2 Covid -gevalle reeds gesond

Die Swartland se eerste (en tot dusver enigste) twee bevestigde Covid 19-gevalle is reeds gesond verklaar. Intussen gaan sifting en toetsing steeds voort.
Só het die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, Tijmen van Essen, aan dié courant bevestig.
Die mense met wie dié twee persone, van Darling en Moorreesburg onderskeidelik, in aanraking was, was onderskeidelik 29 en 31 in getal. Hulle is almal ook getoets en die uitslae was negatief.
Tydens die onderhoud was daar dus geen oorblywende amptelike Covid 19-gevalle in die Swartland nie.

Van Essen het bygevoeg dat die laboratoriums wat toetse doen, erg onder druk is en die toetsuitslae lank neem.
Hy het sy kommer uitgespreek dat die warm weer straks ‘n bydraer kan wees dat die kurwe van totale gevalle nog baie laer as in die meerderheid ander lande is en dat dit skielik kan styg as dit hier begin kouer word.
“Die kenners sê volgende week kan krities wees.”

Burgemeester Tijmen van Essen

Oor die onlangse regeringsverklarings oor effense verslappings en hoe die inperking uitgefaseer kan word, sê Van Essen dit is belangrik om vir mense ook ‘n bietjie hoop te gee.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die mense in die gemeenskap wat aan ander siektes ly en die risiko dat gesondheidsdienste se fokus als op Covid 19 is en daardie pasiënte dan indirek ook slagoffers kan wees van Covid 19.

Van Essen het gesê die munisipaliteit ondersteun die nie-regeringsorganisasies in hul noodlenigingsaksies om kos te voorsien aan hulpbehoewendes.
Hy sê met die nood en beperkte fondse en voedsel beskikbaar, kan baie meer mense met sopkombuise en voedselbanke op ‘n daaglikse basis met bereide kos gevoed word as om kospakkies uit te deel.

Leave a Reply

error: Content is protected !!