Covid en Onderwys – in sy diepste fondamente geskud
Johan Viljoen
Ons is een ons is twee, nee ons is miljoene.
Ons is eenders ons is anders, nee ons is eenders, maar ons lewens so so anders.
Dit lyk nie of jy kernfisika en aktuariële wetenskap onder die knie moet hê om te besef ons lewens gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Op haas elke terrein. Die uwe wil nie praat oor die president wat sê ons moet mekaar nie soen nie. (Wonder effe tong in die kies of dit ‘n moontlike onbewuste geboortebeperking- en bevolkingsaanwasmaatreël is.)
Maar terug by lewe – eenders en anders.
Hier in die Swartland – hier in Malmesbury lewe ons so naby aan mekaar maar so ver van mekaar verwyder in lewenswyse en bestaan.
Die onderwys is ook geskud – in sy diepste fondamente geskud en onherroeplik verander.
Ek gesels met ‘n skoolhoof, ‘n waarnemende adjunkhoof en ‘n onderwyser en die een ding wat almal in gemeen het, is die onsekerheid.
Ja, dit klink nou of die nasionale ministerie straks Maandag meer duidelikheid oor datums gaan gee, maar onsekerheid oor baie goed sal daar vir eers bly.

Onderwys – om leerlinge/leerders te onderrig.
Daarvoor is daar minstens twee pole en ‘n medium nodig. Al is die medium die lug waardeur die stem van die onderwyser na die leerder trek. Deur die mond en dan deur die oor.
Of is dit die hand en die oog?
Onderwysers en leerders het nie verander nie, maar die medium. En die beskikbaarheid of bestaan van die medium.
Overgeset synde. Bereik die onderwyser se boodskap/les/onderrig die leerders?
En net hier spring die wêrelde soos afstotende magnete uit mekaar.
Die skoolhoof van Hoërskool Swartland, Justus Schoonraad, sê hy raam dat hulle met die tegnologie wat tans gebruik word, moontlik 15 tot 20% van die skool se leerders nie bereik nie. Die redes is waarskynlik die nie-beskikbaarheid van data en rekenaars.
Die waarnemende adjunkhoof van Wesbank Sekondêr, Mark Goliath, sê hy het in ‘n poging om die skool se kontakbasis met kinders in hierdie tyd op te dateer, ‘n opname gedoen en slegs van sowat 15% terugvoer gekry.
Dit lyk dan amper of die suksessyfer van die een skool omtrent die faalsyfer van die ander is.
dié courant stel elkeen apart aan die woord. Sien opvolgberigte.