Latest

Olivier se Dragon-fly beste foto op SFK e-kuier

Die Swartland Fotografieklub het gisteraand binne die Covid-regulasies vir die derde keer ‘n virtuele klubbyeenkoms gehou.
Die tema van die aand was plaasdiere met Jan Marais van die Paarl wat as beoordelaar opgetree het.
Marais het die kriteria waaraan hy die plaasdierkategorie beoordeel het, verduidelik en toe Theuns Olivier van Tzaneen se werk Varkkinders as wenner in dié afdeling aangewys.

In die betreklik nuwe selfoonafdeling waar foto’s direk van selfone ingeskryf kan word, het Rina Engelbrecht van Koringberg met haar foto Quiet Harbour die louere ingeoes.
Die junior afdeling is deur Chantal Pieters van Moorreesburg gewen met haar werk Kiki die kat.
In die senior kategorie waar twee foto’s elkeen 27 uit 30 behaal het, is Herman Olivier van Malmesbury se Dragon-fly Close-up toe as die wenner en ook algehele aandwenner aangewys.

Varkkinders – © Theuns Olivier
Quiet Harbour – © Rina Engelbrecht
Kiki die kat – © Chantal Pieters
Dragon-fly close-up – © Herman Olivier

Die ander foto wat 27 punte behaal het, was Exposed van Phillip de Lange van Wolseley.

Exposed – © Phillip de Lange

Onder die ander foto’s wat goeie punte behaal het, was Big Sky Ranch Nguni van Herman Olivier, Hedendaags van Joanie du Toit van Piketberg, When doves cry van Chantal Pieters en Medley of Eggs van Rina Engelbrecht.

Big Sky Ranch Nguni – © Herman Olivier
Hedendaags – © Joanie du Toit
When doves cry – © Chantal Pieters
Medley of Eggs – © Rina Engelbrecht

Die klub se byeenkoms is elke tweede Donderdag van die maand en belangstellendes kan hul facebook-blad dophou vir meer besonderhede.
Onder normale omstandighede vind die vergadering in die keldersaal van die NG Gemeente Swartland-Noord in Bergzichtstraat, Malmesbury plaas.
Enige belangstellendes kan die voorsitter, Adriaan Vlok, skakel by 083 707 8565.

Leave a Reply

error: Content is protected !!