Wie jou beskerm, is jóú besluit
Swartlander en Lid van die Nasionale Parlement, asook die DA se skaduminister vir vervoer, koukussweep en hul kiesafdelingshoof vir Bergrivier, Chris Hunsinger, skryf:
Parlement se funksie as oorsig- en verantwoordbaarheidswaghond is dramaties ingeperk; gereduseer tot leë vertrekke en vervang met ‘n ander uitgebreide gesagstruktuur met ongekende magte vanuit die Plaaslike Rampbestuurswet (Wet 57 van 2002). Stelselmatig is parlement tog besig om weer te begin funksioneer maar dis nie vanselfsprekend nie.
Op 4 Junie 1989 is ‘n groot aantal protesteerders op die Tiananmen-plein deur militêre soldate van China afgemaai. ‘n Slagting in staatsreaksie op hulle aanhang en standpunt vir demokratiese vryheid. Nou, 31 jaar en enkele dae later, skyn hierdie heldedaad wesenlik teruggesit te wees met ‘n onlangs goedgekeurde Nasionale Sekuriteitswetsontwerp in China. Gedenkkerse in die hande van mense op pleine en oop ruimtes het duisende gesigte vir waarskynlik ‘n laaste keer vanjaar verlig; nou, – moontlik uitgeblaas of dalk opnuut aangeblaas.
Onlangs, tydens een van ons episodes van verbruikerspaniek, het ek gedink aan jongmense wat geleef het tydens die eerste wêreldoorlog en hoe hulle moes gevoel het met die tweede wêreldoorlog net 21 jaar later, alles in een lewe. Ook die stories van ander tye en ook nou ons eie swaarkry – Tiananmen-oomblikke wat alles verander.
Die jeugdigheid van ‘n ses-en-twintigjarige demokrasie kan nooit verwyderd gesien word van die Parlementêre ervaringsdiepte van sewe-en-twintig parlemente sedert 1910 in Suid-Afrika nie.
Ja, die aankondiging van ‘n “lockdown-“staat onder die Rampbestuurswet het parlementêre funksionering drasties en dramaties onderbreek op ‘n soortgelyke wyse as wat ons Parlement beleef het tydens twee Wêreldoorloë, en ingrype tydens verskye oorheersings van Engelse-, manlike-, en Blanke-dominansie. “Tiananmen-oomblikke” met ‘n roepe na waaksaamheid en omsigtigheid want dit verteenwoordig ‘n moontlike draaipunt. Die tydelikheid al dan nie, van onregmatige oorheersing en dat géén regering vertrou kan word sonder doeltreffende kontroles nie. Dat polisie en weermag nooit “parlement” moet vervang nie. George Floyd-nuus oorheers, maar wat van ons eie Collins Khosa-insident, ook plaasmoorde en uniforms aan die lyf van kriminele. Uniform-brutaliteit tydens SA COVID-19-operasies toon ‘n 30% toename in sterftes vergeleke met 2019. Brutaliteit in geen vorm of onder enige omstandigheid kan ooit geregverdig word nie. Alle lewens is belangrik en magsobsessie moet gekontroleer word.
Te midde hiervan en met baie moeite is Parlement besig om te herleef. Méér portefeuljevergaderings en debatte word elke week gehou – ook enkele debatte en goedkeurings. Internet se Skype-, Zoom- en Teams-moontlikhede kombineer tans redelik suksesvol met ‘n paar LP’s wat fisies teenwoordig is in Die Huis om kworum te maak en deelname te verseker. Oorsigbesoeke begin herleef en mediaverklarings onder bykans elke politike party word weer weekliks uitgereik. Tussen ons wat die kers van vryheid en demokrasie vashou, is die boodskap eenparig: “As Lockdown eindig, moet die Rampbestuurbeheerstruktuur ook eindig” en parlement moet ongetwyfeld funksioneer as die gesag en verteenwoordiger van almal in SA. Terwyl COVID ongetwyfeld ‘n mediese krisis verteenwoordig, moet “lockdown” as politieke krisis nie misgekyk word nie.
Elkeen van ons moet besluit wie jy vertrou.
Wie? vir jou, die moontlike Tiananmen-oomblikke doeltreffend kan bestuur en parlement moet inwoners laat voel dat elke lewe waardevol is.
*Hunsinger is ‘n onafhanklike rubriekskrywer en die inhoud van sy skrywes weerspieël nie noodwendig die siening en beleid van dié courant nie.