Pulpit Rock buit 1 van Top-10 plekke
Op die vooraand van vanjaar se Internasionale Pinotage-dag het Pulpit Rock buite Riebeek-Wes vandag weggestap met een van die plekke in die jaarlikse gesogte Absa Top-10 Pinotage-toekennings.
Die kompetisie is vanjaar vir die 24ste keer aangebied en die top-tien inskrywings word aangewys.
Pulpit Rock se Brink Family Vineyards Pinotage 2018 is vroeër as ‘n finalis aangewys en het nou een van 2020 se wenners geword.
Die voorsitter van die Pinotagevereniging, die legendariese Beyers Truter, het die gehalte van vanjaar se inskryings geloof en gesê dit is van die beste wat nog in die kompetisie gesien is.
Truter het op ‘n virtuele oorhandigingsgeleentheid ook hulde gebring aan die vader van Pinotage in Suid-Afrika, wyle prof. Abraham Izak Perold.
Pinotagedag word Saterdag wêreldwyd gevier.
Dit is vanjaar 95 jaar sedert Perold in 1925 dié Suid-Afrikaanse kultivar begin het toe hy pinot noir en hermitage (nou bekend as cinsaut) op Stellenbosch gekruis het om die beste kwaliteite van elkeen saam in ‘n nuwe kultivar te vestig. Die kultivar se naam kom dus van pino(t noir) en (herrmi)tage.
Hy is vroeër deur die owerhede oorsee gestuur om wingerdmateriaal te gaan soek om aanplantings in die Kaap uit te brei. Hy het met ‘n groot verskeidenheid (meer as 150) uit Europa teruggekeer, onder andere barlinka en chardonnay.
Truter het die besondere kwaliteite van Pinotage uitgelig en gesê daar kan ‘n groot verskeidenheid wynstyle uit pinotage gemaak word – onder meer wit-, soet, vol en baie drinkbare wyne. Hy het ook op pinotage se verouderingsvermoëns klem gelê.
Al is die eerste pinotage-wyn reeds in 1941 deur CT de Waal gemaak, is die eerste pinotage eers in die vroeë sestigs onder die Lanzerac-etiket gebottel. Dit was ‘n 1959-oesjaar.
Perold was toe reeds (1941) oorlede.
Truter het ook vertel hoe ‘n belese man Perold was en dat hy agt tale magtig was.
Pinotage word vandag oor die wêreld verbou.
Volgens Sawis, die inligtingsorganisasie vir die SA wynbedryf, is daar in 2018 4 731 035 liter pinotage plaaslik gemaak.
Die syfers in Suid-Afrika (2018) dui daarop dat die Swartland die streek is waar die meeste pinotage aangeplant is en wel 1464ha. Dit is 21,6% van die land se totale 6791ha pinotage. Die Paarl het die tweede meeste gevolg deur Stellenbosch.
In 2018 het dié syfer 7,3% van al die kultivars in die land uitgemaak.
*Die volledige lys van die Top 10 vir 2020 is:
Aan de Doorns Pinotage 2018
Anura Signature Pinotage 2017
Beyerskloof Diesel Pinotage 2017
Conradie Family Vineyards Pinotage 2019
Delheim Vera Cruz Pinotage 2016
Diemersdal The Journal Pinotage 2018
Durbanville Hills Collectors Reserve Pinotage 2017
Kaapzicht Pinotage 2018
Pulpit Rock se Brink Family Vineyards Pinotage 2018
Windmeul se The Legend Collection Pinotage 2018