Agri/BusinessLatest

R300m-varkabattoir: Uitslag in Januarie verwag

Planne om die mees moderne varkabattoir in Afrika buite Malmesbury te bou, is “steeds op dreef.”
Só sê die besturende direkteur van Winelands Pork, Ken Polley.
Die Covid-pandemie het “natuurlik ook ons proses kom vertraag.”
Polley het aan dié courant gesê die impakstudie wat aanvanklik in Augustus vanjaar afgehandel sou wees, word nou teen die einde van Januarie aanstaande jaar verwag.

Hy sê die bouwerk aan die aanleg, met ‘n beplande kapasiteit om 3200 varke per dag (400 per uur) te slag, kan dan met al die goedkeurings en kontrakte gefinaliseer, teen Maart of April aanstaande jaar begin.
Bouwerk aan die aanleg teen ‘n geraamde koste van R300 miljoen sal tussen 18 en 24 maande duur.
Ná gesprekke met die eienaar van die lugspuitdienste en aanloopbaan op die aanliggende eiendom, is daar ook ooreengekom om die proses te begin om ‘n nuwe aanloopbaan te bou.
Die huidige aanloopbaan lê in ‘n noord-suidrigting en omdat daar meesal in ‘n noordelike rigting opgestyg en dan wes oor die voorgenome abattoirperseel gedraai word, is besluit dat dit wenslik sal wees om die aanloopbaan te skuif.
Die nuwe aanloopbaan sal dan in ‘n oos-wesrigting lê.

Polley sê hulle voer ook tans gesprekke met Eskom oor die nodige kragvoorsiening.

“Ons wil net by die verskaffers bevestig hoeveel elektrisiteit die koelkamers nodig sal hê om seker te maak wat die nodige kapasiteit is.”
Soos vroeër berig sal Winelands Pork, die bedryfsonderneming van Labelle Street Properties, se huidige Stiklandaanleg met sy kapasiteit van 1600 varke per dag dan gesluit word wanneer die Malmesbury-aanleg volgens plan nou in 2023 in produksie kom.

Hulle beplan wel om, indien moontlik, die kleinhandelslaghuis in Stikland te behou.
Nadat ‘n paar potensiële standplase ondersoek is, is dié een op Erf 12485 buite Malmesbury as die mees geskikte uitgewys. Dit is naby die Kalbaskraalpad en die klein vliegveld agter JAR Transport geleë.

Die abattoir word so beplan om naas die afvalwater wat na die Malmesbury rioolwerke sal gaan, geen afvalprodukte te hê wat na ‘n stortingsterrein vervoer hoef te word nie. Die vernaamste afvalprodukte wat daardeur verwerk sal word is die hare, bloed, hoewe en nie-eetbare binnegoed.
As als volgens plan verloop, sal sowat 70% van die water weer vir gryswaterdoeleindes op die perseel aangewend word.

Die afval en afvalwater sal verwerk word met ‘n pirolise-aanleg waar ook energie opgewek kan word om water te verwarm en in die netwerk te stoot.
Die pirolise is ‘n termiese ontbindingsproses van materiale by verhoogde temperatuur.
Die terrein van sowat 12 hektaar sal geboue van 26 000 m² huisves.

Die planne maak ook voorsiening vir die berging van 2 megaliter water in ‘n reservoir om waterbehoeftes te bestuur.
Polley het vroeër aan dié courant gesê “as jy vat hoe die res van die wêreld vark eet, word dit min geëet in Suid-Afrika.
“Maar ons is baie positief en glo dit moet draai.

Ons sal graag die per capita varkvleisverbruik wil sien groei.
“Varkvleis is van die goedkoopste proteien wat jy kan kry.”
Winelands Pork word besit deur aandeelhoudende produsente waaronder die eienaar van die Chalala-plase buite Malmesbury en die Hazeley-plase, Dave Osborne, en ook die Brink-familie van Riebeek-Wes.

Winelands Pork doen uitvoere na Angola, Namibia, Mosambiek, Hong Kong. “Ons wil vreeslik graag in Sjina ook in die mark kom,” het Polley gesê. “Hulle varkbevolking is deur die varkgriep amper heeltemal uitgewis en daar is 1,45 biljoen mense wat ‘n ontsettende lot vark eet. Ons sien dit as ‘n baie groot groeipunt vorentoe.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!