Agri/BusinessLatest

Ormonde skitter met Sauvignon Blanc

Die Ormonde-wynkelder by Darling het gisteraand die reeks uitmuntende vertonings van die groter Swartland-streek die afgelope weke voortgesit toe hul een van die kampioene in die 2020 Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie opgelewer het.
Ormonde se Chip Off The Old Block Sauvignon Blanc 2019 is een van die kampioenwyne uit sewe verskillende streke.

Die wenners van Suid-Afrika se enigste kompetisie wat aan Sauvignon Blanc toegewy is, is tydens ‘n virtuele toekenningsgeleentheid bekendgemaak.
Ormonde se kampioenwyn uit die Darling Wyn van Oorsprong-distrik het met 148 ander wyne van 96 produsente meegeding.
Ses van die wenwyne was van die 2019-oesjaar, drie van die 2020-oesjaar, en een wyn van 2018.
Die helfte van die Top 10 toon ‘n mate van eikehoutkontak wat die beoordelaars se mening oor die toekomspotensiaal vir meer gehoute Sauvignon Blanc-wyne onderskryf.
“Hierdie jaar sal onthou word as ‘n tyd om sáám te staan en almal wat ingeskryf het kan dus met reg trots wees op hul prestasie,” sê RJ Botha, Sauvignon Blanc SA se voorsitter.
“In hierdie uitdagende tye is dit ‘n voorreg om Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc wêreldwyd te kan vier as ons land se topverkoper. Ons sien opwindende innovasie in styl en geurprofiele, én diversiteit in oorsprong met drie Top 10-wenners uit Stellenbosch, twee uit Elgin, en een elk uit Breederivier, Elim, Worcester, Durbanville en Darling.”

Vanjaar se Top 10 (in alfabetiese volgorde) is: Alvi’s Drift Sauvignon Blanc Reserve 2020; Cilmor Limited Edition Sauvignon Blanc 2019; Diemersdal Winter Ferment Sauvignon Blanc 2020; Ghost Corner Wild Ferment Sauvignon Blanc 2018; Iona Elgin Highlands Wild Ferment Sauvignon Blanc 2019; Kleine Zalze Family Reserve Sauvignon Blanc 2019; Ormonde Chip Off The Old Block Sauvignon Blanc 2019; Paul Cluver Sauvignon Blanc 2019; Stark-Condé Round Mountain Sauvignon Blanc 2019 en Stellenbosch Vineyards Southern View Sauvignon Blanc 2020

Vanjaar se beoordelaarspaneel het bestaan uit die Kaapse Wynmeester en sameroeper van die paneel, dr. Winifred Bowman, keldermeester Charles Hopkins van De Grendel, wynbeoordelaar en skrywer Fiona McDonald en wynmaker Rüdger van Wyk van Stark-Condé Wyne. Die paneel het ook aspirantbeoordelaars Candice Barnes van Boekenhoutskloof, Kelsey Shungking van De Grendel en Victoria Davis van Glenelly ingesluit.
Enigeen kan steeds die 2020 Sauvignon Blanc SA Top 10 virtuele geleentheid, met glanssjef Zola Nene as seremoniemeester en meesterstorieverteller Nataniël as gaskunstenaar, gratis by www.sauvignonblanc.com/top10awards kyk.

Leave a Reply

error: Content is protected !!