Toast Coetzer trakteer op fotografie, poësie
Inwoners en besoekers aan Riebeek-Kasteel het die afgelope naweek ‘n fees van fotografie en poësie by Hoofstraat Conceptual in Riebeek-Kasteel ervaar.
Toast Coetzer van Weg-faam se fotografie-uitstalling “Last days of Beautiful” is Saterdagmiddag deur Rudolph Willemse geopen in gesprek met Coetzer.
‘n Insiggewende gesprek, bygewoon deur fotograwe van die omgewing.
Coetzer se sowat twintig foto’s op uitstalling is geneem met ‘n ou Nikon-kamera en ‘n 50mm-lens met swart-en-witfilm en is in klein formaat gedruk en uitgestal.
Willemse beskryf dit as: “Pragtige oop ‘gevonde’ landskappe van verre plekke, gestroop van pretensie, stil, en oënskynlik eenvoudig maar ook nie, met name soos Stuurmansfontein, Gamkapoortdam, Nelspoort, Vanzylspas, Vanwyksvlei, Beenbreek en Grootderm.”
Die aand het ‘n meesleurende opvoering gevolg van Coetzer se gedigte – uitgevoer deur Buckfever Underground (Toast Coetzer en Stephen Timm) – ook met die titel “Last days of Beautiful”.
Hulle het die gehoor op reise deur die land geneem na verre plekke, indrukke, gedagtes, gebeure langs paaie.
As jy sou wou, kon jy jou oë toemaak en die woorde en musiek visueel ervaar met eggos van “hier is die hart vandaan, hier is die groot verstaan” en “die speld in die water, die blom in die berg, … oer-atoom en ou peperboom.”
Coetzer se uitstalling kan in November gesien word by die private gallery Hoofstraat Conceptual, 52 Hoofstraat, Riebeek Kasteel.
Skakel Rudolph Willemse op 083 252 6762 of epos hom by rudolph@regulatoryframeworks.co.za vir ‘n afspraak om die foto’s te sien.
*Coetzer is ’n reisjoernalis, fotograaf, musikant, romanskrywer, digter en musikant.
Hy verduidelik sy fotografie loop al jare saam met joernalistiek nadat hy aan die Rhodes Universiteit joernalistiek studeer het. Dit is dus ook grotendeels die aanslag in sy fotografie.
Maar hy het ‘n passie vir reis en ook die grond en landskappe en hoe dit van streek verskil, fassineer hom.
Hy is al meer as een keer as PICA se Reisjoernalis van die Jaarbekroon. Hy bied ook fotowerkwinkels aan en tree as gids op en is bekend as aanbieder van die TV-reeks Weg! Agterpaaie. Hy het ‘n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns en is ‘n gepubliseerde digter, romanskrywer (Naweek) en skrywer van ‘n paar reisboeke.