Daar is weer lewe in die DN-biblioteek – Basson
Die Covid 19-pandemie en inperkings het hard geslaan en mense in elke vlak van die gemeenskap diep geraak.
Dit het verskillende komponente van ons gemeemskappe op verskillende maniere van hul alledaagse bestaan geraak. Die impak duur op sekere gebiede voort.
dié courant het by die Darling-Noord Bibilioteek met ‘n klompie lede en boekemense gesels oor hul ervaringe. Vir baie is die biblioteek ‘n integrale deel van hul lewens. Vir sommige ‘n hawe en vir ander ‘n bron van inligting en groei.
“Dit was baie erg. Ek dink nie ek het al meer hartseer mense gesien as daardie dag toe ons ons deure weer kon oopmaak maar die mense nie weer boeke kon uitneem nie. ‘Jammer die boeke kom nou in kwarantyn en julle kan nie boeke uitneem nie.’ Ek kan en sal daardie hartseer gesigte nooit vergeet nie,” só gesels bibliotekaresse Anika Basson. Jy is magteloos en jy weet dit is mense wat wil lees.
Een van die sowat 1800 aktiewe lede by die biblioteek (daar is ongeveer 3000 in totaal) is Ray Beukman.
Sy het vyf jaar gelede na Darling verhuis en vertel sy is “ontsettend lief vir die biblioteek. Die bibilioteek is altyd ‘n verrykingsbron. waar jy kennis kan opdoen. Inligting kan kry. Dit het so baie fasette. So baie kinders en studente wat kom vir navorsing. Kinders word gestimuleer met internet en nuusblaaie elke dag om te kom lees om ingelig te bly.
“Wat my altyd van hierdie klein bibliotekie inspireer, is hoe Antie Anne en haar span werklik moeite doen.
“Hulle is kindervriendelik. Daar is altyd iets vir ons kinders teen die mure. Hulle het altyd temas en beeld nuwe seisoene of vakansiedae uit.
“Wanneer ek ‘n magiese behoefte het aan kalmte en stilte, dan kom sit ek hier. En dit het ek geweldig gemis in die grendelperiode. Die dag toe my kleinseun vir my kom sê: ‘Ouma die biblioteek is oop.’ Was ek so verskriklik bly en opgewonde om weer te kon kom.
“Ek het net weer besef die bibilioteek is só deel van ons gemeenskap en dat ons dit nie kan skei nie. “Ja, ons kon verstaan dat hulle dit moes toemaak, maar ek was verskriklik bly toe dit weer oopgestel kon word.”
Haily Marthinus is ‘n jong lid van die biblioteek. “Ek het die biblioteek baie gemis. Ek kon nie boekies lees nie. Die skole was ook toe. Dit is so lekker om hier te kom lees. Dit is stil en ek was baie baie bly toe ek weer kon kom om te lees.”
Cruzé Carolus is ‘n leerder aan die Hoërskool Swartland op Malmesbury. Hy sê hy het grootgeword in ‘n huis met boeke en het op ‘n vroeë ouderdom begin lees. “Dit het my baie beïnvloed. Die biblioteek is deel van my lewe. Al lees ek dalk nie so baie boeke as voorheen nie, lees ek steeds elektronies.
“Die grendeltyd het ‘n geweldige impak op my lewe gehad.
“Ek kom na die biblioteek veral ook om skooltake te druk. Ons het heelwat skooltake gekry deur die grendeltyd. Ons moes op die internet werk op Microsoft Teams. Jy moet aanlyn werk en dit het my ook erg geraak omdat ons nie die fasiliteite by die huis gehad het nie. Die sluiting van die biblioteek het dus ‘n groot impak op my gehad ten opsigte van my skoolwerk. Maar toe ek weer kon kom, kon ek my take voltooi. Ek was ook baie bly om die biblioteekmense weer te sien.”
Felicia Hoop vertel sy “is baie lief is vir lees, veral Afrikaanse boeke soos dié van Karin Kingsbury. Sy het as ‘n kind rumatiekkoors gehad en die ses maande in die Rooi Kruis-hospitaal geleer om te lees en so haar aandag van die siekte af te kry.
Ook op tye toe sy baie gespot is weens die siekte, het sy ‘n toevlug in boeke gevind en boeke het ook haar kennis oor belangrike sake verbreed.
Sy vertel sy was voorheen baie rebels en boeke het haar geïnspireer om tot ander insigte te kom.
“In ‘lockdown’ was baie van ons mense baie bang. Hulle het ‘gepanic’ en baie het geestelik agteruitgegaan – ‘n knou weg, want ons het nie geweet wat ons tref nie.
“Baie van ons bruin bevolking is baie arm en leef in armoede. Ek het ‘n klomp geestelike boeke gehad. Daardie klomp boeke is kennis en ek kon dit met ander mense wat nie boeke het nie en gewoonlik ook nie lees nie, deel. Ek het nie geld om te deel nie, maar ek kon darem daardie boeke en die kennis daarin met ander deel.
“Kyk. Jy ‘panic’. Jy het nie geld nie. Van ons mense het nie werk nie. Jou omstandighede is so bedruk. Maar dan kan jy ook sien daar is ander mense met wie dit swaarder gaan.”
Hoop vertel sy het in die grendeltyd met spesiale datapakette ook geestelike films op haar selfoon begin kyk. “Daar was nie koerant nie en daar was nie tydskrifte nie. Jy het TV gekyk en die goed wat jy daar gesien het, het jou bang gemaak.
“As ‘n ma is dit vir my belangrik dat alle kinders moet lees. Hier in Darling is baie kinders wat ‘dropouts’ is. Al kan ek nie die ouers daarvoor blameer nie, weet ek as ‘n ma ek het ook my kinders benadeel deur hulle nie genoeg te laat lees nie.
“Ek dink ons moet uitreik na dié kinders om hulle aan te moedig om te lees of vir hulle te lees. Al is daar plekke soos die Darling Outreach, gaan alle kinders nie daarheen nie. Ons ken nie die kinders se omstandighede nie. Hulle word dalk ook gespot of het ander redes waarom hulle nie gaan nie.
“Elke kind moet kan lees. Dit is amper soos brood. Dit is voedsel vir jou siel.”
Amber Solomons sê sy hou baie van lees en was ook in die WOW-spelkompetisie. En die sluiting van die biblioteek in die grendeltyd was vir haar ook baie sleg omdat sy nie toegang tot leesmateriaal kon kry nie.
Claudine Matthyse is ‘n assistent by die biblioteek. Sy het “tydens die ‘lockdown’ haar werk gemis. “Ek was op van by die huis bly. ‘n Mens het die gesiggies en biblioteeklede gemis wat jy elke dag sien. Hier kom so baie wat hulle stories vertel en jy word deel van hul lewens.
“Maar jy kan nou sien die mense wat lief is vir lees is weer terug en hulle kom haal hulle 10 boeke en bring dit binne twee weke weer terug.”
Basson vertel dat daar ook heelwat lede is wat nog skrikkerig is om weer boeke uit te neem en het die aantal aktiewe lede afgeneem.
“Darling het in my hart ingekruip. Ek het in 2004 hier gekom. My hartklop is in Darling. Ek is lief vir die mense.
“Dit was vir my die hartseerste as kinders nie kon kom om hul take te doen en druk nie. Ek wil die kinders help. Ons het ‘n arm gemeenskap. Hoe het hulle gemaak? Waar het hulle inligting gekry. Almal beskik nie oor internet nie. Ons het gratis internet in die biblioteek.
“Ons is een groot familie.
“Die lekkerste was toe ons weer oopmaak en die glimlagte en die kinders en die naslaanwerk. Daar is weer lewe in die biblioteek. Dit was die lekkerste.”