Dubbele droom word waar vir Swartlander
‘n Jarelange dubbele droom (om kinderboeke te skryf of te illustreer) gebeur toe sommer tegelykertyd vir Swartlander Heléne de Clercq, toe haar eerste kinderboek vandeesweek vrygestel is.
Sy het tydens haar hoërskooljare in Calvinia al ‘n bietjie geskryf, maar nooit gepubliseer nie.
Vandag, ‘n Afrikaansonderwyseres en ma van twee, waarvan die jongste vanjaar matriek skryf, het haar eerste kortverhale die afgelope jaar in Huisgenoot en Rooi Rose verskyn. De Clercq is ook kunsonderwyseres en bibliotekaresse by die Christelike Privaatskool Malmesbury. “Ek het ‘n passie om kinders te laat lees. Ek het al telkemale gesien dis net daardie een regte boek wat ‘n kind raaklees wat hom of haar prikkel om in ‘n lewenslange boekwurm te verander.”
‘n Studentemaat van jare gelede onthou goed hoe Heléne, toe hulle vir ‘n studietaak ‘n kinderboek moes saamstel, al gedroom het oor kinderboeke skryf. “Ek het net nie bedoel dit moet so lank neem nie,” vertel De Clercq aan dié courant.
Die feit dat sy die geleentheid gekry het om ook haar eie kinderboek te illustreer, span die kroon. Op die koop toe is sy intussen ook deur ‘n ander skrywer genader om haar boek te illustreer.
“Ek geniet dit om te skilder, maar ook om te skryf. Die skrywery is net heelwat skoner,” verduidelik sy glimlaggend oor ‘n koppie rooibostee.
Sy werk met kinders en het al soveel kere gesien hoe kinders sukkel om hul emosie uit te druk as hulle kwaad is of seerkry en nie ander woordeskatverwysings het as die groot knope wat grootmense soms los as hulle ontsteld is nie. Daar is regtig ‘n behoefte vir kindervriendelike knope wat nie Ma of ander se oë sal laat rek nie.
De Clercq het onlangs ‘n skryfkursus voltooi by Janie Oosthuizen en toe grendeltyd begin, die luukse van ekstra tyd aangegryp. Normaalweg kan sy net gedurende skoolvakansies skryf of skilder.
“Ek wou iets vars doen wat ander nog nie gedoen het nie.” En net daar ontkiem die saadjie vir hierdie boek oor ‘n vloekery wat nou deur Naledi-uitgewers uitgegee word.
‘n Vreeslike gevloekery is propvol humoristiese woorde wat maklik van die tong afrol. Maar wees gerus. Die teikenmark is die ouderdomsgroep 8+ en natuurlik is daar nie enige regte vloekwoorde in nie … wel, ‘n hele rits komiese alternatiewe. En sonder om prekerig te klink, leer die kinders tog waardes oor wat reg en verkeerd is. Ook dat ‘n mens nooit iemand (in dié geval iets) moet afskryf nie. Selfs ruwe diamante kan blink met genoeg aandag.
Die seuntjie, Jannes, wat nie troeteldiere mag aanhou nie, besef hy moet ‘n verskriklik vloekende papegaai, Sampie, wat by hom beland, van sy matroosmaniere en onherhaalbare woordeskat laat afsien. Dit is die enigste manier hoe hy vir Sampie sal mag hou. Daar is ook die buurmaatjie, Una, en die matroos, kaptein Rob, by wie Sampie die growwe woordeskat aangeleer het. Propvol humor en avontuur, perfek vir die jongspan … en ook die ouer garde wat jonk van gees is. Hopelik kan lesers na die eerskomende vakansie weer uitsien na ‘n splinternuwe avontuur – dis nou te sê as ou Sampie nie weer net sy eie kop volg nie.
Met ‘n Vreeslike gevloekery het dinge vinnig gebeur. Sy het in April die manuskrip ingestuur vir goedkeuring. Na die onsekerheid gedurende grendeltyd (ook by uitgewers) het hulle haar manuskrip in Augustus onder loep geneem en blitsvinnig goedgekeur. Nou, minder as drie maande later, verwag sy vandeesweek die eerste eksemplare. Sy is vol lof vir die uitstekende span van Naledi-uitgewers.
De Clercq sê sy is ook oorweldig deur die Swartlanders se ondersteuning sedert sy die nuus oor die boek gebreek het. “Ek het dit nie verwag nie.”
Die sagtebandboek met 68 bladsye (volkleur illustrasies) sal voor Desember in die meeste boekwinkels te koop wees teen R140. Daar is wel ‘n gouspringaanbod van R130. Whatsapp jou naam, van en “vloek” na 082 826 1002.
Sy beplan om binnekort ook ‘n paar ongepubliseerde manuskripte wat in haar laai lê, af te stof.
*Omliggende laerskole is welkom om De Clercq by bogenoemde nommer te kontak om weeksoggende tussen 4 Desember tot 11 Desember met leerders te gesels oor haar boek – 30 minute-sessies.