CommunityLatest

‘Ons het almal Covid gevrees; toe kry ek dit self’

Ons het dit almal gevrees. Ek het gevrees. Ons het gehoop en bid ons huis spring dit vry. Tot die dag as jy positief is.
Só gesels een van die Covid-19-oorwinnaars van die Aandskemering Tehuis vir Bejaardes op Malmesbury, tannie Sheila le Roux (85).
“Dan staan daar in groot rooi letters op jou kamerdeur: Isolasie.”
dié courant het gaan inloer.
Hier, vertel sentrumbestuurder Suzette Ackerman, het hul sedert die eerste inperkings in Maart bly hoop Covid sal hulle nie tref nie. En dit was eers laat in Julie toe die eerste inwoner positief getoets het.

Hulle het streng protokol gevolg en ‘n isolasiesaal geskep en inwoners was onmiddellik tot hul kamers en (waar van toepassing) tot gemeenskaplike badkamers beperk. Kos word sedertdien ook in die kamers vir hulle bedien. Maar gou het die getalle geklim en uiteindelik was daar 15 inwoners en 8 personeel bevestig.
Hulle moes behoorlik bont staan in die krisistyd en kon nie altyd dadelik met familie kommunikeer nie, omdat hulle eers die pasiënte en situasie moes stabiliseer.
Vyf van die inwoners is ongelukkig oorlede.
“Dit was emosioneel geweldig swaar op almal. Onthou die huis is toe al lankal toe en kon inwoners sedert Maart ook nie enige besoekers ontvang nie – nie eens predikante nie.”

Sheila le Roux en Ina Feyt

Le Roux sê: “Ek het nie eetlus gehad nie. Als het geproe soos wol en hout in jou mond. Die Liewe Vader het my hierdeur gedra.”
Nog ‘n inwoner, tannie Cynthia Moreland (83), breek ‘n lansie vir die personeel, Ackerman en suster Marieta Jooste: “Ek dink nie die gemeenskap van Malmesbury gaan ooit weet wat hulle in julle het nie. Ons en hulle skuld julle ‘n groot dankie.”
Sy het ook die virus oorwin. Toe sy in grendeltyd verjaar het haar “kinders mal gegaan. Hulle het balonne buite opgehang en daar was ‘n spesiale kamertjie ingerig waar ek deur die glas met hulle kon gesels. Ek moet sê MTN het in hierdie tyd baie gehelp en my kinders kon foto’s stuur.”
Een tannie wat meer as 60 jaar getroud was, moes haar man afstaan en het self positief getoets.
Jooste vertel sy kon daardie nag nie slaap nie. “Dit was net te wreed. Die tannie moes alleen daardeur. Sy kon nie besoekers of predikante ontvang nie en sou ook nie die diens kon bywoon nie.

Cynthia Moreland

“Haar kinders was wonderlik. En ons het toe maar ‘n baie intieme roudiens net hier in die huis gehou.”
Jooste was in die tyd self siek en het toe tuis gebly, maar haar toetse was gelukkig negatief.
Al het van die inwoners wat Covid-19 oorwin het, soos tannie Ella van der Merwe, slegs baie ligte simptome gehad, was ander baie siek en is selfs gehospitaliseer.

Sentrumbestuurder Suzette Ackerman

Van der Merwe sê: “Onthou ek is ‘n Van der Merwe. Ek raak nie sommer siek nie.”
Vir ander was daar erge naarheid, diarree en chroniese moegheid.
Sommige het steeds by tye maagkrampe en ander se reuk en smaak het nog nie herstel nie.
Ackerman sê dit was vir almal baie emosioneel. “Ons het maar gehuil. Soms die hele dag.”
Hulle kon in die laaste ses maande ook nie nuwe inwoners ontvang nie, maar is nou teogelaat om weer nuwe inwoners in te neem.
Sy sê hulle was verstom oor die hulp en bystand van die Swartland-Hospitaal se dokters. Nie net het hulle die siek inwoners medies behandel nie, maar ook vir inwoners emosionele bystand verleen in die grendeltyd.

Suna de Jongh en Ella van der Merwe

“Dit is werklik iets wat vir my hoop gee as ek sien hoe hulle hulle werk doen.”
Aandskemering is in terme van Vlak 1-regulasies wel oop en volg steeds streng protokol met die neem van besoekers se temperatuur en rekordhouding.
“Maar ek is maar bekommerd, want dit is nou die gevaarlike tyd,” voeg Jooste by. Die mense moet nie gerus en laks raak nie. Dit is ‘n groot risiko.
Tannie Suna de Jongh (77) vertel sy kan bitter min onthou van die tyd toe sy so siek was met Covid-19. “Dit het aan die begin gevoel soos ‘n ligte verkoue. Ek was later baie moeg en het min geëet. En ek was maar altyd naar.”

Petro van den Berg


Le Roux sê dit was emosioneel maar moeilik toe al die inwoners in hul kamers moes bly. Selfs “die verpleegsters kon nie lank by inwoners vertoef nie”. Volgens die protokol moes kontak beperk word. Hulle het uitgesien na die vinnige deurbesoekies van die bestuurder om darem net gesig te wys.
Sy onthou ook die wonderlike dag toe hul “soos voëltjies uit ‘n kou bevry is, en weer kamerbesoeke van kinders kon ontvang.
“Maar dit spook steeds by my as ek in die nag wakker word.”

Suster Marieta Jooste

Tannie Ina Feyt (81) was baie siek en is in die Durbanville Medi-Clinic opgeneem nadat sy positief getoets het. “Ek onthou niks nie. Ek het die hele tyd eintlik geslaap. En as die fisioterapeute gekom het, kon ek skaars tot by die deur stap, so moeg was ek.”

Tannie Janie Theron (82) se man, oom John, is oorlede. “Dit was een van die slegste tye van my lewe. Ek is ‘n blank’, maar almal was baie goed vir ons.”
Jooste sê sommige van die Covid-19-oorwinnaars ervaar wisselende emosies – vreugde omdat hulle gesond is, maar het ook skuldgevoelens omdat hulle dit oorleef het, terwyl ander inwoners nie so gelukkig was nie.
Sy sê baie van die inwoners kom uit die “silent generation” toe vroue nie ‘n stem mag gehad het nie. Covid het vir talle ook gekom om ‘n “slag meer op hulself te fokus en die ek in my te ontdek”.
“Dit het ons almal ook baie nader aan mekaar gebring.” Ackerman het namens Aandskemering gesimpatiseer met families wat geliefdes verloor het. “Inwoners en personeel se harte is saam met hulle seer. Ons wil ook die gemeenskap bedank vir hul volgehoue ondersteuning asook spesiale bederfies aan inwoners tydens die grendeltyd.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!