Agri/BusinessFEATURED

Planne vir R700m De Zwartland Werf op dreef

Die beplanning vir die R700m De Zwartland Werf-ontwikkeling met winkelkompleks, hospitaal en ander op die noordelike dorpsgrense van Malmesbury is tans dat dit tussen Oktober 2022 en vroeg 2023 kan open.
Die ontwikkelaars, Devmark, bevestig dat hul planne ook deur Covid-19 beïnvloed is.

‘n Woordvoerder van Devmark, Dejane Steyl, het aan dié courant gesê hulle beplan om die sentrum in Oktober 2022 of tydens Paasnaweek in 2023 te open.
Jean-Pierre Nortier van Devmark bevestig dat wanneer konstruksie begin, sal die grodverskuiwing en infrastruktuur vir die hele terrein gedoen word. Daarna sal hulle eerste begin bou aan die private hospitaal op die noordelike gedeelte van die ontwikkeling.

As als volgens plan verloop, kan die hospitaal in Oktober 2022 sy deure open.
Steyl sê: Dit sal ‘n “totale oppervlak vir gemengde gebruik van 35 000m² beslaan en ‘n winkelsentrum, kantoorruimte, woonstelle, ‘n privaat hospitaal en ‘n motorvertoonlokaal insluit.”

‘n Rowwe grafika van waar die nuwe ontwikkeling geleë sal wees.

“De Zwartland Werf is nog ‘n trotse ontwikkeling deur die Devmark Property Group. Dit is ‘n opwindende ontwikkeling van 10 ha vir gemengde gebruik wat aan die noordelike grens van Malmesbury lê – onmiddellik aangrensend aan die N7 en Voortrekkerweg, die hoofweg van die dorp. De Zwartland Werf is ontwerp in kleiner eenhede, versprei oor die terrein om ‘n atmosfeer van ‘n plaaswerf en ‘n gemeenskapsdorpie te skep.
“Die gebou-argitektuur sal geïntegreer word met ‘n netwerk van voetpaaie, verspreide parkeerareas en skadubome. Die hoofparkeerarea het die vorm van ‘n sentrale binnehof, ‘De Zwartland Werf’.”

Vir jare is daar planne beraam om die Malmesbury skouterrein en ‘n gedeelte van die aanliggende landbougrond en in een stadium ook die Christelike Privaatskool se perseel in ‘n streeksentrum te omskep.
Meer as een ontwikkelaar was al betrokke by dié planne wat keer op keer skipbreuk gely het.
Een ontwikkelaar wat die ontwikkelingsregte bekom het, se regte hiervoor het verval waarna hy dit verleng het.
Dit het op ‘n hooggeregshofgeding uitgeloop waar van die grondeienaars toe die verlenging tersyde laat stel het.
Daar is ook afgesien van die planne om die skougronde deel te maak van die ontwikkeling. Die sowat 10ha landbougrond wat nou vir die ontwikkeling geoormerk is, behoort aan een van die dorp se bekende boerefamilies, Truter de Kock en sy familie.

Die president van die skougenootskap, Koos O’Kennedy, het vroeër bevestig dat hulle ná onderhandelinge ‘n gedeelte op die noordelike grens van die skouterrein geskenk het vir die toegangspad vanaf die beoogde 5-beensirkel. Die plan is dan om dié toegangspad te verleng tot by Piketbergweg.
Volgens die Swartland Munisipaliteit se bestuurder, Joggie Scholtz, is ook die uitdaging wat daar was rondom die provinsiale goedkeuring vir dié sirkel nou uit die weg geruim.

“Ek dink ons het ‘n oplossing gekry tussen ons en die provinsiale padingenieur. Provinsie hou nie van 5-beensirkels nie, maar omdat twee van die bene (een) uitgaande en (een) inkomend is, is dit vyf maar dit is eintlik net vier en ons kon dit op ‘n vriendelike basis oplos.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!