Solo Studios – ‘n intieme blik op die kunste
Van 11 tot 13 Desember gooi die Riebeekvallei se groot verskeidenheid kunstenaars in gasvryheid weer hul deure oop vir besoekers vir ‘n unieke kunservaring – Solo Studios 2020 – Intimate Art Encounters.
Presies wat die naam sê
Dié besondere kunsnaweek wat vanjaar reeds die 5de keer aangebied word, is ‘n perfekte kunstemengelmoes tussen die visuele kunste, vervleg en onlosmaaklik van die mense van die vallei, hul gasvryheid, die uitvoerende kunste asook die kuns van kos en wyn.
Gemik op elkeen – van die fynproewer en puris tot die beginnerkunsliefhebber – het Solo Studios die afgelope vier aflewerings reeds ‘n unieke en onvergeetlike kunservaring gebied en 2020 se vol program beloof niks minder nie.
Met die aard van die naweek en eksklusiewe besoeke aan gallerye en in die intieme ateljeeruimtes van die bekende kunstenaars, word getalle beperk en is voorafbespreking noodsaaklik.
Solo Studios is reeds goed gevestig as ‘n toonaangewende kunsgebeurtenis en die aanvullende aktiwiteite en vermaak dra om dit ‘n gewilde naweek op die kunstekalender te maak.
Besprekings is reeds oop. Besoek www.solostudios.co.za