Malvastraat op Darling wen toekenning
Met enkele dae oor voor die Darling Skoonmaak-veldtog dié naweek, het ‘n gedeelte van Malvastraat die Trots op my Straat-toekenning vir 2020 gewen.
Die 19 huise in die betrokke gedeelte van Malvastraat wat gewen het, is nommers 19, 21, 23, 25, 27, 29, 31, 34, 36, 38, 40, 42, 44, 46, 48, 50, 52, 54 en 56.
Hierdie gedeelte van Malvastraat is tydens ‘n inspeksie deur die Saamstaan Elders Council aangewys as die skoonste straat in die hele Darling-Noord en -Oos.
Daar is gereël dat ‘n spesiale geraamde skildery van hierdie straatgedeelte gemaak word.
Replikas van die skildery sal aan elkeen van die 19 huise voorsien word in die vorm van ‘n kleurvolle yskasmagneet.
Die prys sluit ook ‘n private straatbraai aanstaande maand vir dié inwoners in.
Volgens die organiseerders beplan hulle om dit ‘n jaarlikse geleentheid te maak as erkenning aan die straat wat die beste poging aangewend het om hulle woongebied skoon en veilig te hou.
Die braai word geborg deur die Saamstaan Elders Council, die Swartland Munisipaliteit, Darling organisasies en besighede.