Swartlander lei veiligheid by Agri SA
Swartlander Uys van der Westhuijzen is pas verkies tot voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid.
Bekend in veiligheidskringe en ook voorsitter van Agri Wes-Kaap se Landelike Veiligheidsbeleidskomitee, is Van der Westhuijzen reeds jare betrokke by georganiseerde landbou.
Hy boer buite Malmesbury.
Agri Wes-Kaap het Van der Westhuijzen in ‘n verklaring gelukgewens.
Van der Westhuijzen sê dit is krities “dat al die rolspelers wat in die SAPD se Landelike Veiligheidstrategie genoem word, saam met Agri SA en sy provinsiale affiliasies werk om landelike veiligheid aan te spreek”.
Hy sê landelike misdaad is nie net die SAPD en die landbousektor se probleem nie. “Die land se sosio-maatskaplike en ekonomiese situasie speel ‘n groot rol in misdaad en departemente soos onderwys en maatskaplike ontwikkeling moet deel van die oplossing wees.
“Wanneer ons net op misdaad fokus, is ons reaktief. Al die rolspelers moet om ‘n tafel sit om pro-aktief ter wille van veiliger gemeenskappe saam te werk,” voeg hy by.
Van der Westhuijzen het in 1986 by die Malmesbury Landbouvereniging aangesluit, waar hy van 2012 tot 2013 voorsitter was.
Dit was juis in hierdie tyd met die onlussituasie in 2012 by De Doorns waar hy aktief by Agri Wes-Kaap se beleidskomitee vir landelike veiligheid betrokke geraak het.
Hy is ‘n senior reserwemag-offisier met die rang van Luitenant-Kolonel en was in in 2018 die eerste Suid-Afrikaanse weermagoffisier wat verkies is as voorsitter van die Internasional CIOR Military Skills Committee, wat by NAVO geaffilieer is en wat militêre vaardighede evalueer.
Hy was ook tussen 1998 en 2008 die bevelvoerder van die Kommando in die Weskus-streek en dien sedert 2014 as voorsitter van Agri Wes-Kaap se beleidskomitee belas met landelike veiligheid.
Van der Westhuijzen sê die idee dat landelike veiligheid net na plase verwys, moet verander. “Alle inwoners van die landelike omgewing is blootgestel en ly onder misdaad.”
Ook ontmoedig misdaad investering.
“Veilige omgewings lok beleggings. Daarom is ‘n goedgekoördineerde en geïntegreerde benadering tussen alle rolspelers nodig om die kwessie van landelike veiligheid gesamentlik aan te pak.”
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die organisasie is trots op Van der Westhuijzen se verkiesing.
“Hy is uiters kundig wanneer dit kom by alle aspekte van landelike veiligheid. Die werk wat hy oor baie jare op veiligheidsvlak by Agri Wes-Kaap gedoen het, spreek ook van ‘n passie en ‘n dryf om ons landelike gemeenskappe veilig te maak. Ons weet hy is die regte persoon om Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid vir landelike veiligheid te lei en wens hom net die beste toe.”