De Jager wen met ‘Mooi getooi’
Die wenfoto op die Swartland fotografieklub se maandelikse byeenkoms is deur Hersia de Jager van Riebeek-Wes ingeskryf.
De Jager het met die foto, Mooi getooi met hoed, in die swart-en-wit-kategorie die hoogste punt behaal as junior fotograaf en beoordelaar Bennie Vivier het dit ook as die algehele aandwenner aangewys.
Die foto is met lensopening (f-stop) van 4.5 geneem en sluiterspoed van 1/160 sek. (ISO 100).
Die tema vir November was beweging. Herman Olivier van Malmesbury het die tema-afdeling gewen met sy foto Tranquility Stream.
Olivier het ook die hoogste punt in die senior afdeling behaal met sy landskapfoto Panoramic View.
Daar is ook ‘n selfoonkategorie en Adriaan Vlok van Malmesbury het die hoogste punt behaal met sy foto van ‘n wenteltrap by die Zeitz-museum.
Die Swartland fotografieklub vergader elke maand in die keldersaal van die NG Gemeente Swartland-Noord in Bergzichtstraat, Malmesbury.
Die maandtema vir Desember is Patrone.
Meer inligting op die klub se webblad, www.swartlandfotoklub.co.za, of skakel die voorsitter, Adriaan Vlok by 083 620 9668 (chairman@swartlandphotoclub.co.za)