Nóg groter oeste; rekords vir kanola, moutgars verwag
Rekordoeste vir wintergraangewasse word nou volgens die nasionale oesskattingskomitee se jongste projeksies vir 2020 verwag.
Die komitee skat in die jongste verslag die land se verwagte koringoes op “2,149 miljoen ton, wat 0,67% of 14 280 ton meer is as die vorige skatting van 2,135 miljoen ton.
“Die verwagte gemiddelde opbrengs is tans 4,22 t/ha. Die skatting is 614 270 ton meer as 2019 se koringoes van 1,535 miljoen ton.
“Hierdie is die grootste verwagte koringoes sedert die 2,427 miljoen ton van die 2002-seisoen,” aldus die vierde produksieskatting vir wintergewasse vir 2020.
“Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 1,108 miljoen ton (52%), in die Vrystaat 432 400 ton (20%) en in die Noord-Kaap 275 650 ton (13%).” Die nuwe skatting dui op ‘n Wes-Kaapse koringoes van meer as 70% meer as die 650 000 ton in 2019.
Die skatting vir ander gewasse sluit rekords in.
“Die produksieskatting vir moutgars is 552 766 ton, wat 4,95% of 26 060 ton meer is as die vorige skatting van 526 706 ton. Die oppervlakte beplant word beraam op 141 690 ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,90 t/ha beloop.” Die totale moutgarsoes vir 2019 was 345 000 ton.
“Hierdie is die grootste verwagte moutgars-oes wat nog vir Suid-Afrika aangeteken is.”
Die verwagte kanola-oes is 148 456 ton, wat 8,08% of 11 100 ton meer is as die vorige skatting van 137 356 ton. Die oppervlakteskatting vir aangeplante kanola is 74 120 ha, met ʼn verwagte opbrengs van 2,00 t/ha. In 2019 is daar in totaal 95 000 ton kanola geoes.
“Dit is ook die grootste verwagte kanola-oes wat nog aangeteken is vir die land.”
Die verwagte hawer-oes (ontbytgraan) vir die 2020-seisoen is onveranderd gelaat op 47 400 ton. Die oppervlakteskatting is 26 200 ha en die verwagte opbrengs is 1,81 t/ha. Die hawermoutoes in 2019 was 16 500 ton wat beteken daar word nou ‘n oes van bykans 3 keer (2,87 keer) dié van 2019 verwag.