Agri/BusinessLatest

‘Trots op prestasies van Swartland se wynmakers’

Die Swartland Wyn- en Olyfroete het die uitdagende 2020-jaar gisteraand met ‘n geselligheid op Malmesbury afgesluit en die produsente wat deur die jaar goue toekennings ontvang het, vereer.
Die roete het unieke handgemaakte kleikraffies wat spesiaal vir hulle gemaak is met die roete se embleem daarop, gevul met top-olyfolie van Olive Boutique, oorhandig aan lede wat presteer het.
Zakkie Bester van Bester Familiewyne het die oorhandigings by Café Myrtledene behartig.

Hy het vertel van sy kinderjare op Malmesbury toe die stelsel van Wyn van Oorsprong geloods is.
“Vir die eerste keer is kultivars op etikette gesertifiseer. Ek onthou die wyn van die Swartland was die Cinsaut, wat deel van daardie reeks was. Cinsaut is vandag nog ‘n staatmaker in die Swartland.
“Nou het ons nie net meer streke nie maar al wyke in die Suid-Afrikaanse wynoorspronggebiede. Daar is selfs al ‘n wingerdblok wyn van oorsprong wat ook in die Swartland gedoen word. Fantasties.”
Bester het gesê die wynroete is al 34 jaar oud en die borg van die laaste 15 jaar, Santam, bedank vir die rol wat hulle tot dusver gespeel het in die sukses van die roete.

“Die grootste plesier wat ek ervaar het, is toe Swartland Independent deel geraak het van die Swartland Wynroete. Wat die regte besluit op die regte tyd was. Nou is ons almal een groot familie. Ons almal werk met ‘n gesamentlike doel om hierdie plek te vestig as ‘n olyf- en wynroete en toerismebestemming by uitstek.”
“Ek is baie trots om te sien watter prestasies die streek se wynmakers die afgelope jaar behaal het.
“Hoe hulle presteer het met wyne regdeur die wêreld. Wynkelders beïndruk en skou waar ons voorheen nie eers deel van die makietie was nie – al kon ons vanjaar nie eers in groepe bymekaar kom nie.”

Agter staan Zakkie Bester, Jorrie du Plessis (Lammershoek), David Sadie (David & Nadia), Jacques Theron (Riebeek Valley Wine Company), Wilhelm de Vries (Allesverloren), Pieter Carstens (Leeuwenkuil Family Vineyards), Charl Badenhorst (AA Badenhorst Family Wines), Susan Aird (Olive Boutique), Callie Louw (Porseleinberg), Jolene Janse van Rensburg (bestuurder van die Swartland Wyn & Olyfroete) en Bertus Kloppers (Santam).
Voor sit Frank Meaker (Org de Rac), Paul Jordaan (The Sadie Family Wines), Dewald Huisamen (Pulpit Rock), Stephan Basson (Babylon’s Peak Privaat Kelder), Chris Mullineux (Mullineux Wines), Hermias Hugo (Voorsitter: Swartland Wyn & Olyfroete) en Niel Esterhuyse (Santam)

Die bestuurder van die roete, Jolene Janse van Rensburg, sê 2020 was ‘n baie uitdagende jaar vir die lede van die Swartland Wyne- en Olyfroete.
“Die aanvanklike verbod op die uitvoere van wyn, gepaardgaande met die uitdagings van vertragings by die uitvoerhawens asook die tydelike verbod op wynverkope in die binneland, het besigheid beslis gestrem.

“Die grendeltyd waartydens die beweging van mense ingeperk is, het ook meegebring dat minder besoekers die Swartland en die proelokale besoek (dis nou toe die proelokale aanvanklik weer kon oopmaak) het.”
Sy voeg by dat produsente in die Swartland “egter nie terugstaan vir uitdagings nie en baie van hul het die tyd gebruik om hul aanlynteenwoordigheid te verskerp (op sosiale media en hul eie webblaaie) en het aanlynwinkels begin.”
Die Swartland Wyn- en Olyfroete in samewerking met produsente in die streek het ook onlangs ‘n virtuele reis met wyn- & olyfolieproe aangebied onder die tema “A Hitchhikers Guide to the Swartland”.

Janse van Rensburg sê daar word reeds hard planne beraam vir aktiwiteite in 2021, waaronder nog aanlynbyeenkomste, eksklusiewe proeë by die Olyffees (vroeg in Mei), en “kwartaallikse ope dae by kelders waar besoekers die geleentheid sal kry om die kleiner kelders wat nie normaalweg oop is vir die publiek nie, te besoek.

“Daar word tans ook met Swartland Munisipaliteit en Swartland Toerisme gesels oor nouer samewerking om die streek as bestemming te bemark.”


Leave a Reply

error: Content is protected !!