Maak saam ‘n verskil, het Majiedt geglo
Kaptein Fanie Majiedt het as polisiebevelvoerder van die Riebeekvallei diep spore getrap in die gemeenskap.
Hy was baie geliefd.
Majiedt het op 1 Oktober 2016 die leisels as polisiehoof by die Riebeek-Wes polisiestasie oorgeneem.
Het het voorheen as bevelvoerder op Darling waargeneem en was op Malmesbury gestasioneer voor hy die aanstelling op Riebeek-Wes aanvaar het, maar het sy loopbaan in 1984 op Riebeek-Wes begin.
Majiedt het geglo dat die polisie en die gemeenskap “saam ‘n verskil kan maak.”
“Ek het die polisie as beroep gekies. Daarom moet ek beskikbaar wees vir my gemeenskap,” het hy destyds gesê.
“Wanneer ek op bystand is, staan my familie ‘n bietjie terug.
“Ek het in 1984 hier begin en ek is nooit spyt dat ek teruggekeer het nie. Dit was altyd my droom om dit wat ek geleer het, terug te ploeg in die gemeenskap.
“Die mense in die gemeenskap vra dikwels klein goedjies. Dis ons werk. Ons moet dit doen.”
Die onlangs verkose voorsitter van die Riebeekvallei Gemeenskapspolisiëringsforum, Valda Adams, sê: “Kaptein Majiedt was ‘n baie goeie mens.
“Hy was altyd daar om te help en om uit te reik na die gemeenskap.
“Hy het die patrollies en die GPF ondersteun en het baie ure oortyd gewerk wat hy nie nodig gehad het om te doen nie.
“Hy was altyd beskikbaar om die GPF of ander te help as ons hulp nodig het en ons gaan hom mis vir sy goeie en harde werk wat hy vir die GPF en die gemeenskap van die Riebeekvallei gedoen het.”
‘n Spesiale roudiens in terme van Covid-regulasies word môre om 17:00 te Hofstraat 2, Riebeek-Wes gehou waar die geleentheid is om ‘n laaste eerbetoon te doen met die plaas van blomme.
Sien kennisgewing.