Opera dié naweek weer op Darling
Dit is weer tyd vir die jaarlikse Opera op Darling met van die land se top jong operasterre wat Sondag in die Swartland optree.
Bekende items soos die kwartet uit Rigoletto, die sekstet uit Lucia di Lammermoor, Italiaanse volksliedjies en die Brindisi uit La Traviata sal Sondagmiddag gehoor word in die NG Kerk op Darling.
Drie van die jong studentesangers, ‘n tenoor, ‘n sopraan en die bas – aldrie nog net in hul tweede jaar – het pas eerste pryse gewen in ‘n internasionale sangkompetisie, Voices of South Africa, ook in Zulu bekend as Amazwi Omzansi Africa.
Kenners het hierdie stemme as “wêreldklas” beskryf.
Kaartjies is nog beskikbaar, andersins ook by die deur. Covid-19 protokol sal gevolg word met ‘n beperking op getalle en laat ekstra tyd toe vir dié prosedure by die kerk.
Die sterre wat gehoor sal word, is die soprane Moloko Letsoalo (UK), Sopraan Yolisa Ngwexana (NWU), mezzosopraan Lucibalwethu Sesante (US), tenore Nathan Zachary (US), Lulama Taifasy (student van Hanna van Schalkwijk), Luvo Maranti (UK), baritonne Lwasi Dhlamini (OK), Sakhiwe Mkosana (UK en KO) en bas Rhuben Mbonambi (UK).
Maranti het in die tenoorafdeling van die Voices of South Africa-afdeling eerste geëindig, terwyl Ngwexana die afdeling vir soprane gewen het en Mbonambi die bas-afdeling.
Kaartjies teen R130 is beskikbaar. Die opera word jaarliks aangebied deur Thys Greeff. Skakel hom by 082 749 4457 of e-pos by thysgreeff@isat.co.za
*Kaartjies sal elektronies aangestuur word.