‘n Stukkie Madeira in die Swartland
Madeira in Portugal is reeds vir baie jare sinoniem met skouspelagtige versierings en feesvieringe oor die Kersseisoen. Die strate en huise word in die fynste besonderhede opgemaak met Kerstonele.
Nou het Manny en Matilda da Fontes ‘n stukkie van hierdie tradisie uit hul geboorteland na hul huis in Malmesbury gebring met ‘n besondere Kersuitstalling in hul motorhuis en ‘n meer private uitstalling binne-in hul huis.
Da Fontes sê hul woon al 32 jaar op Malmesbury nadat hy in die vroeë sestigs in Kaapstad aangekom het uit Portugal.
Die grootste deel van die unieke uitstalling bestaan uit goedere wat nie plaaslik verkrygbaar is nie en waarvan hy die laaste vanjaar saamgebring het nadat hy in Portugal was.
Hy vertel hy het van die items gekoop ná sy vader se afsterwe ook as ‘n herinnering aan hom. Die uitstallings duur gewoonlik tot in Januarie.