Louw aangestel as H Porterville se hoof
Die beheerliggaam van die Hoërskool Porterville het die aanstelling van hul nuwe skoolhoof bekend gemaak.
“Dit is vir ons as beheerliggaam van die Hoërskool Porterville ‘n voorreg om mnr. Cobus Louw geluk te wens as die nuutverkose skoolhoof.”
Só sê die voorsitter van die beheerliggaam, Mac-Hendrik Jordaan.
“Mnr. Louw sal die pos vanaf 1 Mei 2021 vul.

“Mnr. Louw is ‘n oudleerder van Hoërskool Porterville en is ook vir die laaste 8 jaar deel van Hoërskool Porterville.
“Hy matrikuleer aan Hoërskool Porterville waarna hy die graad B. Comm. Bemarking aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf.
“Ná sy studies begin hy sy landbouloopbaan as Plaasbestuurder by De Denne op Porterville.
“Ná 13 jaar in die landboubedryf besluit hy om sy passie vir die onderwys na te jaag.

Hy behaal ‘n Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) asook ‘n Honneursgraad in onderwysbestuur deur Unisa.
“Vanaf April 2013 beklee hy die pos as Landboubestuurspraktykopvoeder by Hoërskool Porterville en die laaste drie jaar is hy ook die departementshoof van die hoërskool.
Mnr. Louw het ‘n passie vir die skool en sy leerders en in sy eie woorde ook ‘n passie vir die Porterville-gemeenskap.
“Mnr. Louw is getroud met Lené en hulle het twee pragtige kinders. Sumari (Graad 3) en Hein-Paul (Graad 1) is altwee leeders van HSP.
“Ons beste wense vergesel u. Mag u termyn vol hoogtepunte en sukses wees.”