Hoe gemaak

Hoe gemaak in die herfstuin

Februariemaand lê op sy rug en skop en volgende week is dit al Maart, die eerste herfsmaand (amptelik vanaf die 21ste wanneer die dag en nag ewe lank is).
Nou wat doen ons Maartmaand in ons tuine?
In Maart begin ons winter- en lenteblommende bolle insit, maar pasop om nie te vroeg die bolle en knolle te plant nie. Jou tuingrond moet eers afkoel, want in die warm grond kan die bolle begin om te vrot.

Kry volledige instruksies oor grondtoestande en plantinstruksies by jou plaaslike kweker.
Die bekendste bolle is ranonkels, anemone, freesias, sparaxis, affodille, tulpe en meer.
Dit is ook die tyd om jou somerblommende struike te snoei, want gereelde snoei stimuleer nuwe groei en nog nuwe blomme. Gee jou rose ‘n lekker strawwe somersnoei en lekker kos en siedaar, pragtige groei met trosse nuwe blomme!
Poinsettias moet nou gesnoei word vir vars nuwe groei, waarop daar in dié winter pragtige rooi blomme gaan pryk. Knip ook die fuchias terug en onthou ‘n fuchia hou nie van ‘n winderige plek in jou tuin nie.

Petunias en ander saailinge wat nou toiingrig lyk, kan teruggesnoei word.
Gee weer ‘n bietjie kompos en voeding, dan is hulle in ‘n week of drie weer pragtig en in die blom.
Plante wat nou opgedeel kan word is byvoorbeeld varkblomme en agapantusse.
Haal die hele ou plant uit en verbreek die knolle versigtig. Knip alle oortollige blare en wortels af en plant weer terug in vars nuwe grond wat goed voorberei is.

‘n Mooi tuin benodig gereelde voeding, minstens een maal per maand, maar selfs tot elke twee weke.
Moenie jou clivias na die einde van Maart meer kos gee nie, hulle gaan nie blom nie.
Na blomtyd hervat die voedingsprogram. Hulle moet nog gereeld water kry indien dit nie reën nie.
Kyk voortdurend uit in jou tuin vir die peste en plae.
Rooispinnekop is nou nogal baie bedrywig. Plante se blare kry so ‘n vaal, e# ens gespikkelde voorkoms, maar hulle is baie klein om met die blote oog raak te sien. Indien jy twyfel, pluk ‘n paar blare en bring dit redelik vars tot by jou naaste kweker.
Indien die oorgang tussen somer en herfs jou met ‘n paar leë kolle in die tuin laat, versier dit tydelik met ‘n mooi tuin-ornament of ‘n mooi stomp of klip.
Groetnis en lekker tuinmaak.
George Retief

Leave a Reply

error: Content is protected !!