Riebeek vier met kos en kultuur
Dit is weer tyd vir First Fridays in die Riebeekvallei en hierdie keer is die tema Summer’s Last Fling met ‘n naweek van vieringe, aanbiedinge met kuns , kos en kultuur.
Die naweek skop Vrydagaand om 17:00 af wanneer besighede later sake doen met spesiale aanbiedinge.
Daar is ook ‘n dansvertoning deur die Funky Town Dance Troupe, musiek deur Die Vanneevers, ‘n gebak- en produktemark, musiek deur Fanie Velskoen asook ‘n teaterproduksie The Shadow of Brel by die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) in.
Daar is verskeie restaurantaanbiedinge en selfs ‘n spesiale spyskaart vir ‘n voorvertoning-ete (om 18:00) saamgestel deur sjef Julien Debray by die Franse Brasserie Au Bouchon Rouge om die tafel vir die vertoning te dek.
Godfrey Johnson bring The Shadow of Brel, wat ook al vir ‘n Fleur du Cap genomineer is, vir twee aande na die Riebeekvallei.
Met ses Fleur du Cap-benoemings en talle toekennings op sy kerfstok, sal Johnson weer die gehoor trakteer op van die meester Jacques Brel se grootste werke.
Bespreek aanlyn by www.artstown.co.za of skakel 082 851 1262
Op Saterdag se program is die maandelikse mark van Raw Riebeek Valley en die aand is die laaste optrede van Godfrey Johnson by Rata in The Shadow of Brel.
Sondagoggend (7 Maart) is weer tyd vir die gewilde gratis Poetry Jam by Rata waar digters hul werke voordra gevolg deur die opening van ‘n kunsuitstalling In Bardo by die RK Contempory-gallery in Hoofstraat.
Daar is ook ‘n spesiale Post Poetry Jam-restaurantaanbieding.
Die uitstalling In Bardo is ‘n versameling werke in hematiet en olie op papier en doek deur die kunstenaar Leanne Olivier. “Die Tibetaanse term Bardo verwys na ‘n tussenstaat; dit is die ruimte tussen die sikliese aard van lewe / dood / lewe. Of dit nou die verlies van ‘n geliefde ervaar of ons eie sterflikheid oorweeg, dit gaan uiteindelik oor die verlies van die illusie van beheer.”
*Alle besighede sal Covid-19-veiligheidsvoorskrifte nakom.
Gebruikers van maskers, handreiniger en sosiale afstand moet streng gevolg word.