Agri/BusinessLatest

Swartlandse plaaswerkertrust vier winsdeling

Die Wynkeldershoek-werknemerstrust het onlangs hulle eerste winsdelinguitkering van meer as R3 mijoen van dié tafeldruif-en sitrusplaas gevier.
“Ons is werklik opgewonde dat ons hierdie dag kan vier,” het dr. André Neethling, voorsitter van die trust en mede-eienaar van Wynkeldershoek, gesê.
“Ons vier die resultaat van harde werk, groei, toewyding en samewerking.”

Die samewerking is ’n gesamentlike onderneming tussen die werknemerstrust en Neethling Broers, eienaars van die plaas wat geleë is aan die voet van die Kasteelberg in die Riebeeksrivier.
Dit het in 2012 tot stand gekom as ’n inisiatief om werkers te bemagtig deur landbougrond beskikbaar te stel en te verseker dat hulle finansieel deur die trust bevoordeel word.
Die gesamentlike onderneming huur ’n deel van die plaas waarop hulle aanvanklik pruime verbou het, maar dit oor die jare met tafeldruiwe vervang het.
Die Departement van Waterwese het in 2015 altesame 30 hektaar se waterregte aan die werknemerstrust toegeken, waarna die samewerking verder ontwikkel het.

Glase is geklink tydens die oorhandiging van ’n seremoniële tjek van meer as R3 mijoen. Van links is Ruan van der Mescht (trustee en algemene bestuurder), Jacoline Galant (trustee), dr. André Neethling (mede-eienaar en trustee), Gwillyn Galant (trustee), Primrose Oliphant (trustee en senior toesighouer) en Harry Williams (algemene werker). Foto: Niel Roux

Die waterregte word op die spesifieke deel van die plaas gebruik, waarop die gesamentlike onderneming tans 21,8 hektaar van die tafeldruifvariëteite Sable en Autumn Crisp verbou. Die druiwe is hoofsaaklik vir die uitvoermark bedoel.
“Dit is bemoedigend dat ons nou hierdie beloning kan deel ná jare se harde werk. Dit gee ons as werknemers hoop dat indien ons voortbou op die sukses van die samewerkingsooreenkoms, daar ’n mate van finansiële sekuriteit vir ons gesinne is,” het Jacoline Galant, een van die trustees en ’n loonklerk op die plaas, bygevoeg.
Die werknemerstrust het ’n 40%-aandeel in die gesamentlike onderneming.

Die twee tafeldruifvariëteite wat by Wynkeldershoek geproduseer word, is trots uitgestal tydens die viering van die suksesvolle samewerking. Foto: Niel Roux

Die 29 begunstigdes ontvang elkeen bykans R60 000, wat 60% van die uitkeerbedrag is, gebaseer op die resultate van die 2020-boekjaar. Die res bly in die werknemerstrust se rekening en sal aangewend word vir inisiatiewe soos beurse vir die onderrig van begunstigdes se kinders asook finansiële bystand om hulle in staat te stel om eiendom te koop.
Hulle beplan ook om donasies te maak aan gemeenskapsorganisasies, want hulle “glo dit is belangrik om ’n aktiewe ondersteuningsrol te speel in die gemeenskap waarin hulle werk”.
Die werknemerstrust deel slegs in die gesamentlike onderneming se winste en nie in enige verliese wat oploop nie.

Elsabee Farao, ’n begunstigde van die trust wat as administratiewe klerk op die plaas werk, het gesê dit is ’n voorreg om deel te wees van die projek: “As enkelouer gee dit vir my gemoedsrus om te weet dat ek in die toekoms kan aansoek doen vir finansiële bystand om my kind die nodige geleerdheid en geleenthede te bied.”

Dr. André Neethling, trustee en mede-eienaar van Wynkeldershoek, was opgewonde om die sukses van die samewerking tussen Neethling Broers en die Wynkeldershoek-werknemerstrust te vier. Foto: Niel Roux

Neethling Broers, met ’n 60%-aandeel in die gesamentlike onderneming, is ’n vennootskap tussen drr. André en Steyn Neethling.
Hulle verskaf die bedryfskapitaal en finansier die vestiging van die vrugteboorde. Die plaas se bestuurder, Ruan van der Mescht (ook ’n trustee), en sy span verskaf tegniese ondersteuning en mentorskap.

Nomaphelo Nyabiso, ’n begunstigde van die werknemerstrust en ’n toesighouer op Wynkeldershoek, was trots om deel te wees van die gesamentlike projek. Foto: Niel Roux
Die begunstigdes Elsabee Farao, Dirk Braaff, Mary-Ann Arendse en die trustees Jacoline en Gwillyn Galant glimlag breed oor die vrug op jare se harde werk. Foto: Niel Roux

“Ons model is gebaseer op ander suksesvolle bemagtigingsmodelle in ons bedryf wat ons aangepas het om wedersyds voordelig en lewensvatbaar te wees vir ons samewerking,” het dr. André Neethling gesê.

Die trustee Jacoline Galant bedank haar kollegas, die begunstigdes en ander belanghebbers vir hulle deursettingsvermoë en toegewyde spanwerk. Foto: Niel Roux

“Ons gee begunstigdes nie net die geleentheid om betrokke te raak in die bestuur van die plaas met formele en indiensopleiding in wat dit verg om ’n suksesvolle agri-onderneming te bedryf nie, maar lewer ook ’n bydrae tot hulle finansiële sekuriteit op die lang termyn.” – (Mediaverklaring)

Leave a Reply

error: Content is protected !!