Swartland M se konsepbedryfsuitgawes styg tot R913,77m
Die Swartland Munisipaliteit se nuwe konsepbedryfsbegroting is vanoggend tydens ‘n virtuele raadsvergadering goedgekeur.
Die begrote bedrag vir bedryfsuitgawes styg van die R812,209 miljoen (volgens aansuiweringsbegroting vir die huidige jaar) tot R913,771 miljoen (‘n toename van 12,5%).
Die begroting vir bedryfsinkomste styg met 8,15% van R892,883 miljoen tot R965,667 miljoen. (Dit sluit kapitaaltoekennings en donasies in.)
Daar word tans begroot vir ‘n surplus van R3 983 691.
Die begrote bedryfsuitgawes sluit R368,3m vir elektriese ingenieursdienste, R294,7m vir siviele ingenieursdienste, R75,6m vir beskermingsdienste, R56,5m vir finansiële dienste, R54m vir ontwikkelingsdienste, R38,3m vir korporatiewe dienste, R18,3m vir raadsdienste en R8,2m vir die kantoor van die munisipale bestuurder in.
Die totale begrote uitgawes vir die grootmaataankope van elektrisiteit word op R299,5m geraam met die uitgawes vir personeel op R270,119m.
Luidens die konsepbegroting vir bedryfsinkomste word daar geraam dat elektrisiteit ‘n totaal van R381,571m sal bydra en eiendomsbelasting ‘n bedrag van R141,177m.