Swartland Wynroete vier mylpaal van 35 jaar
Die wynbedryf in die Swartland kom al oor etlike geslagte aan en is inderdaad ook ‘n groot rolspeler in die landbouekonomie van die streek.
Plase is in die 18de eeu gevestig, hoofsaaklik vir vee- en graanboerdery, maar kort op die hakke daarvan het die wynbedryf ook hier begin gedy.
Die Swartland Wyn-en Olyfroete is eintlik relatief jonk, maar vier vandeesmaand 35 jaar sedert die stigting van die trust in Maart 1986. Toe was daar ses lede.
Vandag, 35 jaar later, is daar nie minder nie as 28 lede, wat wissel van olyfprodusente (wat sedert 2009 ook deel van die roete uitmaak), klein garagiste-wynmakers en boetiekwynmakers tot die groot kelders.
Naturlik was aanvanklike wingerdaanplantings in die streek bosstok/droëlandwingerd.
Al is daar later afgewyk, is die bosstok en die kleiner opbrengs/kleiner korrels daarvan steeds een van die karaktertrekke van talle wingerdplase in die streek. Dit, soos die Swartland Wnkelder se slagspreuk lei, lewer “Small Berries Big Taste”.
Die streek het oor jare ‘n al groter rolspeler in die bedryf geword en by verskeie geleenthede al van die sogenaamde meer bekende streke op hul neuse laat kyk.
Ook het die veelbekroonde Swartland as wynstreek met tyd ‘n al groter internasionale voetspoor ontwikkel en is dit ‘n steeds groeiende mark.
Die opbloei van die kleiner kelders in die streek (soms met onkonvensionele style) sedert 2011 onder die vaandel van die Swartland Independent Producers het ook ‘n reuse-bydrae gemaak om die Swartland as wynstreek se naam uit te dra.
Die meeste van dié kleiner wynprodusente is deesdae ook lid van die roete.
Een van die stigterslede van die wynroete, Henk Bruwer, vertel dat die Swartland Wyndistrik, soos ander streke, in die 80’s geld van die KWV ontvang het op grond van tonnemaat druiwe gepars. Só is die Swartland Wyntrust toe in 1986 gestig.
Die stigtingsvergadering is by Swartland Wynkelder gehou en die stigterslede was Allesverloren, Hanekom Broers (Winkelshoek), Mamreweg (deesdae Darling Kelders), Riebeek Wynboere (deesdae Riebeek Valley Wine Co), Porterville Wynkelder en Swartland Kelder.
Sedert die stigting van die roete het Darling ‘n wynstreek op hul eie geraak, maar die Swartland wynstreek strek (om Darling) steeds tot teen die see by Yzerfontein en ook verder noord teen die Weskus.
“Met ‘n R27 000-toekenning asook ‘n mandaat van die KWV, word die volgende bestuurslede verkies met die eerste bestuursvergadering op 21 April 1986: Voorsitter: mnr. J.H. (Hennie) Smit, ondervoorsitter: mnr. H.J. (Henk) Bruwer van Riebeek Wynboere, sekretaris: mnr. M. (Marius) Erasmus van Swartland Kelder, tesourier: mnr. N.W. (Klaas) de Jongh van Porterville Wynkelder, bestuurslede: mnre. P.J. (Pietie) Kirsten van Mamreweg Wynkelder, P.G. (Piet) Bruwer van Porterville Wynkelder, J. Neethling van Mamreweg Wynkelder, S.F. (Fanie) Malan van Allesverloren, H.A .C. (Hennie) Hanekom van Hanekom Broers en D.J. (Sias) du Toit van Riebeek Wynboere.
Die eerste ledegeld wat gehef is, was R5 per persoon per jaar.”
Daardie eerste toedeling van fondse is hoofsaaklik aangewend op kapitale toerusting soos tafels, stoele, verskuifbare omheinings en ander en was daar veral gefokus op wyntuine en sportgeleenthede wat deur lede self, onder hul eie vaandel, georganiseer is, maar wel finansieel ondersteun deur die Wyntrust.
In 1989 is die roete amptelik bekendgestel op ‘n glansgeleentheid met Mej. Suid-Afrika, Michelle Bruce, as gas.
In 1993 het die voorsitter, Hennie Smit, afgetree en is hy opgevolg deur die volgende KWV-direkteur van die dag, Willie Hewett.
Die roete se eerste deeltydse skakelbeampte, Sandra Lotz, is in 1994 aangestel.
Die eerste voltydse skakelbeampte was Marinda Blake en die huidige bestuurder van die roete is Jolene Janse van Rensburg.
In 1994 het die Swartland nog onder die vaandel van die Stellenbosch jongwynskou deelgeneem, maar het soms, weens onder meer goeie prestasie, “nie altyd daar so welkom gevoel nie”.
Toe is besluit om op die proses te begin om vir die Swartland ‘n eie jongwynskou te hou.
Dit sou jare neem om te kon deurvoer en op 16 Mei 2003 is die stigtingsvergadering van die Swartland Jongwynskou gehou met die eerste geskiedkundige aanbieding van ‘n Swartland Jongwynskou op 19 Augustus 2003.
In die vroeë 2000’s het heelpartye nuwe lede by die wynroete aangesluit. Onder hulle was Kloovenburg, Lammershoek, Groote Post, Meerhof en Cloof.
Later ook Citrusdal Cellars, Pulpit Rock, Babylon’s Peak, Org de Rac en Annexkloof. Talle ander het sedertdien gevolg.
‘n Groot mylpaal was die vennootskap met die nuwe borg Santam wat in 2005 by die roete betrokke geraak het en vandaar die amptelike naam die Santam Swartland Wyn- en Olyfroete. Meer as 15 jaar later is Santam steeds die hoofborg.
In 2007 het die roete begin om jaarliks ‘n voorsitterstrofee toe te ken. Die eerste ontvanger was die grondkundige Paul Feyt.
Onder die bestuur van Jolene Janse van Rensburg het die roete sedertdien ook begin deelneem aan die Plaaswerkerkompetisie van die Wes-Kaap se Departement van Landbou.
Vir meer inligting, skakel 022 487 1133 of besoek www.swartlandwineroute.co.za.