EntertainmentLatest

Uitmuntende Vaslav dié naweek op Riebeek

Die Royal Arts Town Amphitheater (Rata) op Riebeek-Kasteel se heel eerste somerseisoen staan einde se kant toe.
Maar nie voor daar nóg ‘n paar hoogtepunte op die program is nie.
Hierdie naweek (9 en 10 April) bring Godfrey Johnson sy bekroonde Vaslav hier op die planke.

Dié produksie, een van dié akteur se heel bestes, handel oor die lewe van die legendariese danser Vaslav Nijinsky, ‘n Rus. Johnson lewer ‘n kragtoer met beweging, musiek en toneelspel in harmonie.
Vaslav was in verskeie kategorieë vir Fleur du Cap-toekennings genomineer.
Geskryf deur Karen Jeynes, Lara Bye en Godfrey Johnson, lig Vaslav ‘n stukkie van die lewe van Nijinsky, een van die 20ste eeu se heel bekendste balletdansers, toe.

Hy het in ‘n era toe mans net ‘n ondersteunende rol vir vroueballetdansers gespeel het, die wêreld vir manlike balletdansers op visioenêre en waaghalsige wyse oopgebreek.
Nijinsky het meer as ‘n eeu gelede ‘n besonder kort dansloopbaan van nege jaar gehad en in 1919 (op 28) die laaste keer gedans waarna hy vir 30 jaar met geestesgesondheid geworstel en in en uit geestesinrigtings was.
Hy was ‘n baie kreatiewe kunstenaar en ook ‘n baie goeie pianis.

“Mense het gedink ek is mal, ek het net gedink ek leef ten volle.” – Vaslav Nijinksy
Die teks van Vaslav, die kabaret, is gebaseer op Nijinsky se dagboek wat hy later jare in ‘n paar weke in ‘n inrigting in Switserland geskryf het.
Vaslav het die eerste keer geopen in 2014 op die Nasionale Kunstefees onder regie van die bekroonde Lara Bye.
Johnson gebruik die werke van Stravinksy, Rachmaninov, Tsjaikovski, Debussy, Satie en sy eie komposisies – meesterlik verweef.

9 en 10 April – 20:15
Besprekings: www.artstown.co.za of skakel 082 851 1262
Kaartjieprys: R120
Engels, 65 minute

Leave a Reply

error: Content is protected !!