‘Gee jou tyd; geld help nie mense’
Tyd is jou grootste kommoditeit – jou grootste bate.
As jy dit nie kan gee nie, het jy niks anders om te gee nie. Regtig.
Só gesels Albert Wassenaar van Adopt a Mission vanoggend op Malmesbury toe hy ‘n bakkievrag aartappels en uie aan diensorganisasies oorhandig het om kos aan behoeftige mense te voorsien.

“Geld is ‘n goeie ding as jy dit gee. Voertuie is ook ‘n goeie ding, maar as jy nie jou lewe kan gee nie, – jou tyd, dan gee jy eintlik niks. Dis hoe ek glo.”
‘n Groep betrokkenes, waaronder predikers, was by die Table Mountain Gastehuis byeen,
Adopt a Mission werk in arm gebiede in die Kaapse metropool, maar bring ook elke twee weke voorrade na Malmesbury.
“Geld kan nie mense help nie. Dit gaan oor liefde en barmhartigheid en ander. Ons is almal hier om ons medemens te help. Vir my gaan die lewe oor wat jy gee.

“Ons almal is verantwoordelik vir ons medemense.
“Die toekoms gaan vereis dat jou kleinkinders ook sal deelneem aan wat ons hier vandag doen.
“Of jy dit nou like en of jy dit nie like om te hoor nie, maar ons moet nou begin in die harte van ons medemense kweek om vir mekaar om te gee.
“Ons moet ook iets kweek in Malmesbury dat mense besef jy het nie intelligensie nodig om net liefde te wys nie.
“Dis baie eenvoudig.

Pleks van hulle ou brood op hulle asblik sit, moet mense eerder net buitekant hulle hek stap en dit vir die ou is sy hand gaan gee en wys jy gee om.”
Onder die begunstigdes tel Meals on Wheels, The Haven nagskuiling, die Baptistekerk en Almond Bridge.
Wassenaar het almal, waaronder ‘n welwillendheidstrust, die gastehuis wat as verspreidingspunt dien, die voorsieners van die produkte asook vir JB’s Nissan bedank vir hul bydrae met die aankoop van ‘n groter bakkie om die voorrade te vervoer.